Duitsland verneder sonder sy SA dinamiet

Duitsland, sonder sy sterk Suid-Afrikaanse dinamiet van die afgelope tyd, is Saterdag kwaai deur Roemenië in die reeks om die Rugby Europa-beker (REB) verneder.

Op die koop toe het die Eike se sege van 85-6 in Boekarest, Roemenië (rustyd 31-6), waarskynlik ʼn einde gemaak aan die Duitsers se hoop om in die komende toernooi om die Wêreldbeker in Japan te speel.

Met die Suid-Afrikaners Kobus Potgieter en Pieter Jordaan as afrigters en ʼn stuk of tien spelers met Suid-Afrikaanse wortels het Duitsland die afgelope paar jaar gegroei tot een van die sterkste tweedevlakspanne (net onder die Sesnasiesreeks) in Europa.

Die span het Roemenië verlede jaar met 41-38 getroef in wat bestempel is as die grootste skok sedert die ontstaan van die reeks.

Sy kans om die RWB-toernooi te haal het goed gelyk, omdat die eerste twee lande in die REB-reeks naas Georgië (wat in 2015 reeds sy plek bespreek het) Japan toe kan gaan.

Sedertdien is die Duitse Rugbyunie (DRV) haaks met sy borg, en omdat die afrigters en die spelers deur die borg en nie die DRV gekontrakteer is nie, is hulle nie vir toetsrugby beskikbaar nie tensy die dooiepunt uitgestryk word.

Daar was nogtans ʼn Suid-Afrikaner in die Duitse span: die haker Senzo Ngubane, wat KwaZulu-Natal op die o.18-akademieweek en die UKZN in die reeks om die Varsityskild verteenwoordig het.

Die Suid-Afrikaner Johan van Heerden (slot) het een van Roemenië se 13 drieë gedruk.

Hy het vroeër die Pumas en die Griffons in die reeks om die Curriebeker verteenwoordig, en dit was sy 27ste toets vir die Eike.

Enorme verrassing

♦ In nog ʼn wedstryd in dié reeks het Spanje vir ʼn enorme verrassing gesorg deur Rusland die eerste keer in 16 jaar te klop en hul kragmeting in Krasnodar, Rusland, met 20-13 te wen (rustyd 15-10).

Die reeks om die Rugby Europa-beker sal bepaal wie Europa in die toernooi in Japan verteenwoordig.

♦ In die reeks om die Rugby Europa-uitdaagbeker (REU) het Portugal in Lissabon met 36-12 (rustyd 24-0) gewen teen Nederland, wat deur die Suid-Afrikaner Gareth Gilbert afgerig word.

José Rodrigues (losskakel), wat op Standerton gebore is en vir die Sharks-vyftiental in die opstelronde van die Curriebeker gespel het, het nege van die wenspan se punte met drie doelskoppe en ʼn strafdoel behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.