Duitsland voor strawwe toets teen Spanje

Jarrid Ela (Foto: DRV)

Jarrid Els (Foto: DRV)

Duitsland kom Saterdag voor ʼn strawwe toets te staan wanneer hy Spanje in Keulen in die Rugby Europa-kampioenskap aandurf.

Die Spanjaarde staan vierkant in die tuisspan – met ʼn Suid-Afrikaanse afrigter en die span propvol Suid-Afrikaners – se pad om vir die volgende toernooi om die Rugbywêreldbeker (RWB) in aanmerking te kom.

Die besoekers word met ʼn kortkop as die gunsteling beskou om die toets te wen.

Ongeag sy uitmuntende oorwinning vroeër in die reeks teen die gedugte Roemenië het Duitsland die afgelope Saterdag nie juis oortuig toe hy met 34-29 teen België gewen het nie, en sal hy sy sokkies moet optrek as hy nie sy pad Japan toe met onnodige dorings wil besaai nie.

Die Suid-Afrikaanse losvoorspelers Jaco Otto en Jarrid Els was teen die Swarte Duiwels tussen die wenspan se puntemakers.

Spanje het op sy beurt goed vertoon deur slegs met 10-20 te verloor teen die oorweldigende gunsteling, Georgië, wat die reeks die afgelope tien jaar oorheers.

Duitsland is tans derde ná Georgië en Roemenië op die punteleer, en die span wat tweede kom, sal vanselfsprekend vir die RWB in aanmerking kom omdat Georgië – die gunsteling om bo te eindig – reeds sy plek bespreek het deur in 2015 derde in sy groep te eindig.

In die afgelope naweek se ander wedstryd in die reeks het Roemenië (met Jody Rose, die Springbok Earl Rose se broer, tussen sy puntemakers) maklik met 30-10 teen Rusland gewen.

Saterdag se ander kragmetings in die kampioenskap is tussen België en Roemenië in Brussel, en tussen Georgië en Rusland in Tbilisi.

Roemenië en Georgië is oorweldigend die gunstelinge om te wen.

♦ In die reeks om die Rugby Europatrofee het Portugal die doemprofete verkeerd bewys en Nederland met 26-10 verslaan. Hy kom Saterdag in Lissabon teen Moldawië te staan, en die besoekers word nie juis ʼn wenkans gegun nie.

♦ In Afdeling 2 (Suid) van die Europese reekse het Bosnië en Herzegovina teen alle verwagting in met 25-0 teen Turkye gewen.

♦  Saterdag se ander Europese toets is tussen Switserland en Oekraïne in Genève.

Die tuisspan het ʼn goeie kans om te wen, maar dis nie bo die besoekers se vuurmaakplek om te verras nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.