Die Cheetahs verloor hulle afrigter, Rory Duncan, wat vanjaar verras het met die wyse waarop hy die span in die Pro14-reeks laat uithaal het – en die Vrystaters kry Franco Smith terug as hoofafrigter in Duncan se plek.
Die Cheetahs het Donderdag bekend gemaak dat Duncan (40), wat die Cheetahs in 2007 tot die Curriebeker-titel aangevoer het, in Mei ná die 2017/’18-Pro14-reeks afgehandel is sy bande met die franchise sny.
Hy word hoofafrigter by die Worcester Warriors.
Duncan was vanjaar nie net ʼn vars briesie by die Cheetahs nie. Sy harde werk en sukses as afrigter het nie by kenners verbygegaan nie; vandaar die pos by die Worcester Warriors.
Die Cheetahs is tans derde op die afdeling A-punteleer in die Pro14 en sterk op pad na ʼn uitspeelstryd ná ʼn groot loesing in hulle eerste wedstryd.
Duncan het as speler, direkteur van afrigting en afrigter groot spore getrap en is ʼn gewisse verlies, nie net vir die Cheetahs nie, maar ook vir Suid-Afrikaanse rugby.
♦ Die Bokke se agterlynafrigter, oud-Springbok Franco Smith, het egter besluit om sy bande met die Bokke te sny. Hy sal by die Cheetahs as hoofafrigter by Duncan oorneem en as die direkteur van afrigting aanbly.
SA Rugby het aan Smith die keuse gestel om te verhuis indien hy as lid van die Bokke se afrigtingspersoneel wou aanbly, maar hy het besluit om in Bloemfontein te bly.
Franco het die beste skuif van sy loopbaan gemaak. Politiek is alweer by die bestuur van die Bokke teenwoordig. Davids vir n pos?