
Antoine Dupont is terug om Frankryk teen die Springbokke in die kwarteindstryd van die Wêreldbeker-toernooi aan te voer. (Foto: Victor Joly/DPPI via AFP)
Antoine Dupont is terug om Frankryk teen die Springbokke in Parys aan te voer.
Die Franse skrumskakel het sy wangbeen in ʼn groepfasewedstryd teen Namibië gekraak, maar ná ʼn suksesvolle operasie het hy weer die groen lig gekry om te speel.
Matthieu Jalibert sal sy skakelmaat wees, met die skerpskutter Thomas Ramos op heelagter en die driedrukmasjien Damian Penaud op regtervleuel.
Alle oë sal egter op die 26-jarige Dupont gerig wees.
Sy vaartversnelling op ʼn rugbyveld is uit die boonste rakke, terwyl sy aanvoeling vir die spel ook gereeld sy teenstanders onder kwaai druk plaas. Terselfdertyd verdedig hy soos ʼn wafferse losvoorspeler.
Dupont is al as Wêreldrugby se speler van die jaar aangewys, terwyl sy teenwoordigheid die vurige Franse ʼn verdere hupstoot sal gee.
“Ek voel goed en my herstelproses het na wense verloop. Ek is fisiek en geestelik gereed vir die wedstryd,” het die Franse talisman gesê.
Soos reeds genoem beskik die Hane egter oor ʼn rits gevaarlike spelers en volgens Faf de Klerk sal dit dom wees as die Bokke net op een speler konsentreer.
“Antoine is ʼn wonderlike speler en hy gee vir Frankryk baie selfvertroue op die rugbyveld. Ons berei ons egter voor om teen ʼn span te speel en nie individuele spelers nie. Persoonlik is dit altyd goed om teen die wêreld se beste spelers kragte te meet,” het die Springbok-nommernege gesê.
Ja-nee, hier kom ʼn bielie van ʼn kwarteindstryd op die Stade de France!
Frankryk: Thomas Ramos (heelagter), Damian Penaud (regtervleuel), Gael Fickou (buitesenter), Jonathan Danty (binnesenter), Louis Bielle-Biarrey (linkervleuel), Matthieu Jalibert (losskakel), Antoine Dupont (skrumskakel), Grégory Alldritt (agtsteman), Charles Ollivon (flank), Anthony Jelonch (flank), Thibaud Flament (slot), Cameron Woki (slot), Uini Antonio (stut), Peato Mauvaka (haker) en Cyril Baille (stut). Plaasvervangers: Pierre Bourgarit, Reda Wardi, Dorian Aldegheri, Romain Taofifenua, Francois Cros, Sekou Macalou, Maxime Lucu en Yoram Moefana.

Kan nie help om te dink sy ‘gekraakte wangbeen’ was nie so erg soos hulle beweer nie. Dit gebruik om ons te laat glo hy gaan nie hard speel nie. Iemand met so ‘n besering en nog na ‘n operasie sal lank neem om volkome te herstel. Hier kom ‘n ding.
Hie’ komme’ ding en … daar gaat die Bokke! Bye-bye 2023-WRC!!! My voorspelling: Ierland en Frankryk in die finaal, met Ierland wat wen.