Durbaniete laat Bulle in Haaitenk spartel

Siya Kolisi druk sy drie. Foto: Twitter via The Sharks.

Papsop-amper-winter-waterpret!

Oukei, dit is dalk nie heeltemal die korrekte naam van die gewilde Afrikaanse treffer nie, maar ’n mens mag seker ’n tikkie digterlike vryheid toepas wanneer Suid-Afrikaanse spanne lekker hardlooprugby (weer dáárdie woord) speel.

Die Haaie het gisteraand in ’n sopnat Durban die Bulle in die eerste helfte geblitzkrieg om ’n aanskoulike voorbereidingswedstryd met 45 – 12 te wen.

Al twee spanne het nie geskroom om die bal lug te gee nie en van die Haaie se hantering was uit die boonste rakke.

Die tuisspan se vyf drieë in die eerste helfte het die Bulle op die agtervoet geplaas, maar die Pretorianers is deesdae bekend vir hul haas-uit-die-hoed-pluk-vermoë.

Jake White se span het inderdaad beter in die tweede helfte vertoon en jong spelers soos Dawid Kellerman en Jan-Hendrik Wessels het gewys dat hulle hul man in die komende Rainbow-beker sal kan staan.

Maar die Haaie het die wedstryd in die eerste 40 minute van die wedstryd gewen; om ’n rustydagterstand van 31 – 5 uit te wis was dalk ’n bietjie te veel van ’n span sonder Duane Vermeulen gevra.

Die tuisspan se Springbokvleuel S’bu Nkosi was propvol ondernemingsgees, terwyl Rynhardt Jonker se dartellopie-drie een van die wedstryd se hoogtepunte was.

Wat van Siya Kolisi?

Die Springbokkaptein het sy buiging vir die Haaie gemaak en hy is met ’n goeie drie beloon.  Nkosi het weliswaar die bal aan die rol gesit, maar Kolisi moes steeds met ’n paar Bul-verdedigers afreken.

Hy is egter in die 50ste minuut van die wedstryd deur JJ van der Mescht vervang.

Nat weer in Durban kan seker nie heeltemal met soortgelyke toestande in Glasgow vergelyk word nie, maar wat voorbereidingswedstryde betref was hierdie een darem lekker om te kyk.

  • Puntemakers:

Haaie: Drieë: Strafdrie, Fez Mbatha, Siya Kolisi, Marius Louw, Rynhardt Jonker, Ox Nche en Sanele Nohamba. Doelskoppe: Boeta Chamberlain (3) en Sanele Nohamba.

Bulle: Drieë: Nizaam Carr en Dawid Kellerman. Doelskop: Morné Steyn.

  • Die Bulls en die Sharks speel op 8 Mei in die Rainbow-beker teen mekaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans ·

As dit voorbereiding was vir wat wag op die Bulls se jongelinge het dit totaal in sy doel misluk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.