Durbell sal oopklubtitel nie goedskiks afstaan

Darron Nagel, ondervoorsitter, Sinetemba Zweni, voorsitter, en Jacques Kotze, klubbestuurder. (Foto: Durbell).

Darron Nagel, ondervoorsitter, Sinethema Zweni, voorsitter, en Jacques Kotze, klubbestuurder. (Foto: Durbell).

Ondanks die knou wat Durbanville-Belville, verlede jaar se Gemeenskapsbeker-kampioen, moes verwerk, moet die ander deelnemers aan vanjaar se reeks nie dink die Kaapse klub sal die titel goedskiks afstaan nie.

Die SA Rugbyunie (Saru) het Donderdag op Twitter bevestig dat Durbell genooi sal word om sy nasionale titel in die 2016-reeks om die Goue Beker (soos die reeks nou heet) te verdedig.

Die Durbies is ná die 2015-eindstryd van sy uitblinkers gestroop – enersyds het beserings in die strawwe reeks `n kwaai tol geëis, andersyds het provinsiale spanne van die sterre opgeraap – en terug in die Westelike Provinsie (WP) se Superliga A het die klub aanvanklik gesukkel. Hy het egter die karakter van `n kampioen getoon en teruggeveg om die seisoen in die vyfde plek te voltooi.

Sinethema Zweni, die klub se voorsitter, sê die nuwe hoofafrigter, Bobby Joubert, wat Jan Loubser ná sy uittrede opgevolg het, en sy breierspan werk hard om die span gereed te kry vir die uitdagende en opwindende seisoen wat voorlê.

“Ongeag `n paar uittredes einde 2015 is die groep propvol talent en ervaring verteenwoordigend van topklub- sowel as beroepsvlak.”

`n Klompie strawwe vriendskaplike wedstryde teen Ceres (27 Februarie), Hamiltons (5 Maart), die Ikeys (12 Maart) en Valsbaai (19 Maart) sal die geleetheid bied om veskillende kombinasies op die proef te stel voor die Superliga begin.

Bobby Joubert, hoofafrigter, en Marius White, bemarkingshoof.

Bobby Joubert, hoofafrigter, en Marius White, bemarkingshoof.

Die klub oefen Maandae, Woensdae en Donderdae 18:00.

Darron Nagel, Durbell se ondervoorsitter, sê die klub se breër oogmerk vanjaar is om `n volhoubare gemeenskapsklub daar te stel wat jong spelers deur rugby bemagtig en hulle die kans gee as jong manne te ontluik.

“Ons fokus op alle aspekte van rugby – op en van die veld – en nie net op die telbord nie. Dis belangrik om `n omgewing te skep waar sowel die spelers as lede van die gemeenskap tuis voel en graag tyd deurbring.”

Die klub span ook met RugbyTots Durbanville saam om die kleintjies tussen twee en ses jaar die basiese vaardighede van rugby op prettige wyse aan te leer.

Marius White, `n gewese Durbies-kaptein, is as bemarkingshoof aangestel om die klub en gemeenskap saam te snoer.

Durbell se jaarlikse potjiekoswedstryd is Saterdag 13 Februarie by die klub. Die publiek is welkom om deel te neem en belangstellendes kan met White by 082 882 7442 of [email protected] in verbinding tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.