Durbell vestig hoop op ontluikende talent

Brendon Esterhuizen – van randspeler tot spilpunt. (Foto: Shaun Roy/Gallo Images/Gold Cup Rugby)

Brendon Esterhuizen – van randspeler tot spilpunt. (Foto: Shaun Roy/Gallo Images/Gold Cup Rugby)

Durbanville-Bellville, verlede jaar se Goue Bekerhouer van vanjaar `n semi-finalis in die reeks, vestig sy toekomshoop op die talent wat in vanjaar se toernooi ontluik het.

Darron Nagel, die klub se ondervoorsitter, sê Durbell is geweldig trots op die vertoning van sy jong span in vanjaar se reeks.

“Die feit dat so `n jong afrigter en span hul man teen die beste in die land gestaan het, maak ons opgewonde as ons aan 2017 dink.”

Hy sê spelers wat aan die begin van die toernooi op die randjie van die groep was, het hul diensbaarheid in die uitmergelende toernooi bewys.

“Ons het geleer dat ons as `n jong klub steeds groter hoogtes kan bereik as ons daarin kan slaag om ons span en ons strukture te behou.

“Soos dit maar met enige amateurklub gaan, is geld altyd voorop as uitdagings en beletsels opgehaal word.

“Ons onderhandel tans met `n paar borge, maar gesien die huidige ekonomiese omgewing beskik sake oor minder inkomste om aan borgskappe te bestee.”

Hy het ondernemings in Kaapstad se noordelike voorstede en in die Boland genooi om by Durbell betrokke te raak en die klub te help om sy puik vertonings die afgelope paar seisoene vol te hou.

Nagel huiwer om uitblinkers uit te sonder “omdat `n ieder en `n elk van die huidige oes tydens `n uitdagende seisoen met uitmuntende vertonings die aandag op hom gevestig het”.

Hy sê die kaptein, Ashton Constant, en sy voorymaats Jacques Vermaak en Ashley Kohler het eersteklas vertoon.

“Dit was `n openbaring om te sien hoe Brendon (Dozi) Esterhuizen van `n randspeler tot `n spilpunt in die lostrio saam met Karl Liebenberg ontwikkel het.

“Michael Badenhorst was `n blink ster en het saam met Daneel Botes `n paar grootse vertonings as slotpaar gelewer.

“Agterlangs was Tiaan Radyn se stelskopwrk die grootste deel van die reeks bestendig, en die klubstaatmaker Raymond Olivier het hom goed ondersteun.

Cheslyn Roberts - verbasende drieë. (Foto: Gallo Images/Gold Cup Rugby)

Cheslyn Roberts – verbasende drieë. (Foto: Gallo Images/Gold Cup Rugby)

“Cheslyn Roberts het `n klompie verbasende drieë gedruk wat deur Etienne Swarts die buitesenter geskep is.

“Werklik, as ek eerlik moet wees, verdien al die manne om vermeld te word.”

Nagel sê die klub is ontsaglik trots op “sy jongste glanspersoon”, Peter Virgin, wat ná die Goue Bekerreeks as die bestuurder van die jaar aangewys is.

“Bobby Joubert het dusver `n puik taak as hoofafrigter verrig en sal gewis in die komende seisoene van krag tot krag gaan.”

Nagel voorspel `n opwindende tyd vir die klub as hy wys op die aanstelling van Keith Theunissen as hoof van die o.20-afdeling.

“Dis `n deel van die klub wat nie altyd die aandag en ondersteuning gekry het wat dit verdien nie. Ons glo Theunissen is die ideale man vir die taak omdat hy oor die vermoë beskik om hartstog en toewyding by die spelers op te wek.”

Hy (Nagel) sê soos dit maar met enige suksesvolle klub gaan, is dit onvermydelik dat Durbell spelers aan ander bonde moet afstaan. Die klub is ook nie immuun teen die huidige uittog Europa toe nie.

“Die klub is gelukig genoeg om naas die afrigter, Joubert, 80% van vanjaar se spelersgroep te behou.

“Ons gaan nie nou al ons kaarte oopgooi nie, maar daar is gewis `n paar dinge aan die kom in die Ville in 2017,” het hy aan Pale Toe! gesê.

“Durbell bedank sy lojale ondersteuners, borge en beskermhere vir hul steun in 2016, en sien uit na `n besonderse 2017-seisoen op en van die veld.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.