Dyantyi hoor dán sy lot

Aphiwe Dyantyi – sy vreugde na sy eerste toetsdrie (Foto GB Jordaan)

Aphiwe Dyantyi se verhoor vir die gebruik van verbode middels sal volgens berigte op 15 September begin.

Dít volg nadat die blitsige Bokvleuel, wat in 2018 as internasionale rugby se nuweling van die jaar aangewys is, op 2 Julie 2019 ’n urienmonster tydens ’n Springbokoefenkamp ingedien het wat positief vir verbode middels getoets is.

Die 25-jarige het van die staanspoor aangevoer dat hy onskuldig is wat die gebruik van anaboliese steroïede betref. Hy het onder meer gesê dat hy in harde werk en regverdige spel glo.

“Ek het nog nooit verneuk nie en sal ook nie,” het hy in ’n verklaring gesê. Die uitslag van sy B-urienmonster was egter óók positief.

Die toetse is by ’n geakkrediteerde World Anti-Doping Agency- (Wada-)laboratorium by die Universiteit van die Vrystaat gedoen en daar is bevind dat die Bokblits positief vir drie verbode middels getoets het.

Dyantyi word deur baie kenners as een van die opwindendste Springbok-agterspelers sedert Bryan Habana bestempel en hy het ses drieë in 13 toetse vir die Bokke gedruk.

Khalid Galant, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (SAIDS), het destyds gesê dat Dyantyi vir tot vier jaar uit die sport geskors kan word.

Volgens mediaberigte het die Bokster vir ’n ruk afstand van sosiale media gedoen, maar in ’n onlangse Facebook-inskrywing het hy ’n paar foto’s van homself saam met ’n positiewe boodskap geplaas.

“Ontdek jou krag in die moeilike tye, wees dankbaar, doen selfondersoek, groei en wees altyd gereed met ’n glimlag,” het hy geskryf.

  • Die voormalige Springbokhaker Chiliboy Ralepelle is vroeër vanjaar vir agt jaar uit rugby geskors weens die gebruik van verbode middels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Ja Dyanti in sport is die word NDM….No Drugs Matter! Nie skuldig, maar die A en B monster was positief?

Jack Russ1 ·

Hoekom moet dit so lank uitgerek word. Bevind hom skuldig, dat hy sy straf kan uitdien en terugkeur. Of vind hom onskuldig, sodat hy kan speel.

Suzette ·

“Hy het onder meer gesê dat hy in harde werk en regverdige spel glo.” Nou goed dan – verduidelik postiewe A en B monster…

MakersMark ·

Ja nee sy harde werk, kwotas en die hoes stropie wat hy by sy ouma gekry het was als regverdig en korrek. Net jammer vir daai A en B monsters………dis waar die onregverdigheid inkom. Kyk vir chili, drie keer positief getoets en steeds onskuldig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.