Eben weer reg om Iere te trotseer

Suid-Afrika se Eben Etzebeth. (Foto: Michael Bradley/AFP)

Eben Etzebeth is beskikbaar vir die Springbokke se belangrike Wêreldbeker-wedstryd teen Ierland op die Stade de France.

Die vuurvreterslot het ʼn skouerbesering opgedoen, maar die Bok-bestuur het bevestig dat hy weer gereed vir aksie is.

“Ons het aanvanklik gesê dat Eben vir tot tien dae op die kantlyn kan wees, maar hy het goed herstel en kan vir die wedstryd oorweeg word,” het Deon Davids, assistent-afrigter, gesê.

In Malcolm Marx se afwesigheid kan Etzebeth se rol in die span selfs belangriker word – hy is immers die vuur in die Bokke se enjinkamer.

En teen ʼn span soos Ierland is dit bitter belangrik dat die Springbokke op alle suiers vuur.

“Ierland is die voorste span ter wêreld; ʼn prestasie wat nie sommer net in jou skoot val nie. Hulle is goed afgerig, terwyl hulle hul man op die aanval en verdediging kan staan. Ons sal dus ongetwyfeld op ons beste moet wees.֨”

Volgens Rassie Erasmus sal Handré Pollard nog nie vir die kragmeting oorweeg word nie.

Die 29-jarige losskakel het Maandag by die span in Parys aangesluit nadat die Springbokke hom nadergetrek het om Marx se skoene vol te staan.

“Handré is nou deel van die opset, maar hy sal nie onmiddellik oorweeg word nie – behalwe natuurlik as ons met beserings sukkel,” het SA Rugby se direkteur van rugby gesê.

Pollard het Vrydagaand se eerste wedstryd in maande vir die Leicester Tigers gespeel nadat ʼn kuitbesering hom langs die kantlyn gehou het.

“Ons moet hom nou eers weer op hoogte van die span se doen en late kry voordat hy weer deel van die wedstrydgroep word.”

Erasmus het heelhartig met Davids se Ierland-opsomming saamgestem.

Die Wêreldbeker-wenafrigter was immers vir ʼn paar seisoene aan die stuur van Munster en hy weet dat die Iere rateltaai rugbyteenstanders is.

“Ons sal hard moet werk en alles op die veld gee. Benewens Ierland se goeie aanval- en verdedigingstrukture is hulle tegnies ook baie korrek.”

Die wedstryd begin Saterdag om 21:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

Ek sal hom nog laat rus het. Die wedstryd teen Ierland is nie doodsake nie want dit gaan nie eintlik saak maak of jy Frankryk of NZ in die kwarteindstryd speel nie. Persoonlik sal ek verkies om Frankryk te speel so dalk nie so ‘n slegte idee om teen Ierland te verloor nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.