Eddie gaan WB toe sonder Cooper en Hooper

Eddie Jones kyk toe hoe Quade Cooper aan sy vaardighede voor vanjaar se wedstryd teen Nieu-Seeland op die MCG skaaf. (Foto: William West/AFP)

Twee van die Wallabies se grootste name, Quade Cooper en Michael Hooper, is nie in Eddie Jones se Wêreldbekergroep nie.

Die Aussies speel hul eerste wedstryd van die skouspel op 9 September teen Georgië op die Stade de France. Hulle sal ook later in die toernooi kragte teen Fidji, Wallis en Portugal meet.

Volgens die Sydney Morning Herald is dit die mees onervare Wallabies-groep van die professionele era en elke speler het nog net ʼn gemiddeld van 19 toetse vir sy land gespeel.

“Dit is ʼn jong span. Dit is ʼn opwindende span en dit sal ʼn suksesvolle span wees,” het Eddie Jones in ʼn kort verklaring gesê.

“Dit jonger spelers het dit verdien om in die span te wees; dit is so eenvoudig soos dit. Ek het dit nie vir hulle op ʼn skinkbord gegee nie, hulle het hul geleenthede met al twee hande aangegryp.”

Volgens die beleërde Aussie-afrigter glo niemand dat die sukkelende Wallabies veel by die Wêreldbekertoernooi sal kan uitrig nie.

“Die afrigters en die spelers glo egter in hul vermoëns en dit is uiteindelik al wat tel.”

Hooper, ʼn veteraan van meer as 120 toetse, het ʼn kuitbesering in die pasvoltooide Rugbykampioenskap opgedoen en ondanks die speler se versekering dat hy gereed is vir die Wêreldbeker-avontuur, is dit duidelik dat Jones dit nie met hom wou waag nie.

Cooper se afwesigheid sal egter veel meer wenkbroue laat lig – veral omdat Jones vroeër daarop gesinspeel het dat die 35-jarige losskakel oor die unieke vermoë beskik om steeds wedstryde vir sy span te wen.

“ ʼn Mens kan seker vir Dan Carter as die perfekte voorbeeld uitlig. Hy was 35 jaar oud tydens die 2015-Wêreldbeker en Quade het dieselfde geleentheid,” het Jones vroeër gesê.

Carter Gordon is die enigste erkende losskakel in die groep, terwyl Ben Donaldson ook die nommertientrui kan dra.

Cooper het juis vantevore sy wedstrydwenvaardighede teen die Springbokke uitgestal toe hy in 2021 die wenstrafskop op die Cbus Super-stadion oor die dwarslat gejaag het.

Jones moes verlede maand ook walgooi nadat die Aussies nog glad nie die mas onder sy toesig kon opkom nie.

“Jy moet eers plat op die grond lê voordat jy kan opstaan. Ek het aanvanklik gehoop dat ons ʼn onmiddellike ommeswaai sou sien, maar dit gaan nie gebeur nie. Ons moet weer van voor af begin,” het hy in ʼn onderhoud met Sky Sports gesê.

Wallabies se Wêreldbekergroep:

Voorspelers: Angus Bell, Pone Fa’amausili, Zane Nonggorr, Blake Schoupp, James Slipper, Taniela Tupou, Richie Arnold, Nick Frost, Matt Philip, Will Skelton (kaptein), Matt Faessler, David Porecki, Jordan Uelese, Langi Gleeson, Tom Hooper, Rob Leota, Fraser McReight en Rob Valetini.

Agterspelers: Issak Fines-Leleiwasa, Tate McDermott (onderkaptein), Nic White, Carter Gordon, Lalakai Foketi, Samu Kerevi, Izaia Perese, Jordan Petaia, Max Jorgensen, Andrew Kellaway, Marika Koroibete, Mark Nawaqanitawase, Suliasi Vunivalu, Ben Donaldson en Josh Kemeny.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.