Eddie in klub-spervuur – en Engeland se beserings neem steeds toe

Eddie Jones (the guardian.com)

Eddie Jones (the guardian.com)

Engeland se afrigter Eddie Jones is in die spervuur. ʼn Geselsie met die klubs het glo die lug gesuiwer, maar die beserings van ʼn hele aantal van Engeland – en dus die klubs – se voorste spelers word steeds voor Jones se deur gelê.

Die klubs se gevoel is dat die spelers te veel rugby speel, en dat die driedaagse kamp vroeg in Oktober verder daartoe bydra.

Daar is ses voorspelers, op die krukkelys wat Engeland se voorste twee slotte, George Kruis en Maro Itoje insluit. Met die baie flankbeserings sou Itoje egter as flank oorweeg word en Courtney Lawes sou langs Engeland se voorste slot George Kruis gesak het.

Die nuus Saterdag dat Lawes waarskynlik nou ook van die jaareindtoetse kan misloop, is allermins wat Jones wou hoor.

♦  Benewens die oormaat rugby word Jones verkwalik vir die fisieke aard van sy driedaagse oefenkamp in die week tussen klubwedstryde waar judo ondermeer deel van die oefenprogram was.

Twee spelers is op die kamp beseer en Sam Jones het sy been op die judomat gebreek.

Lawes se besering is verdere water op die meul van die klubklaers wat die baie beserings aan oor-blootstelling wyt.

Die kniebesering van Lawes het in ʼn kluboefening gekom. Hy kon die afgelope naweek nie vir Northampton Saints speel nie en sy klub sien nie juis lig dat hy in die reeks toetse sal kan speel nie – in elk geval nie in Engeland se eerste toets, teen die Bokke, nie.

Lawes bly nietemin by die Engelse span, al is Josh Beaumont – wat al in ʼn nie-toets vir Engeland gespeel het – ook na die week se oefenkamp in Portugal genooi. Hy is die seun van die voormalige Britse Leeus-kaptein en nou voorsitter van Wêreldrugby Bill.

Die flanke James Haskell, Jack Clifford, Sam Jones, Mike Williams en Maro Itoje (ook slot) is almal beseer. Op slot is dit Kruis, Itoje en nou waarskynlik ook Lawes wat nie beskikbaar is nie. (Kruis en Itoje was die verkose slotpaar in Junie in die 3-0-reeksoorwinning teen die Wallabies.)

Die vleuels Anthony Watson en Jack Nowell en die senter Manu Tuilagi is ook beseer en die losskakel/senter Owen Farrell en die kaptein en haker Dyland Hartley sukkel met rugbeserings. Hulle behoort nietemin reg te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.