Eddie Jones loop sy rieme styf

Eddie Jones (Foto: Twitter)

As jy uitdeel, moet jy ook bereid wees om dit te kan vat.

Dit is die dure les wat die Engelse rugbyafrigter, Eddie Jones, geleer het toe hy Sondag twee keer op ʼn openbare trein gereis en “fisiek en verbaal” aangerand is.

Dit het gevolg nadat Engeland Saterdag op Murrayfield met 25-13 deur Skotland in die Sesnasies-wedstryd geklop is.

Jones het Sondagoggend per trein van Edinburgh na Manchester gereis waar hy Sondagmiddag, as gas van United se vorige afrigtersbaas, Alex Ferguson, United se sokkerwedstryd teen Chelsea bygewoon het, en ná die wedstryd per trein tussen Manchester en Londen gereis.

ʼn Mens moet jou hoed lig vir die grootmond-Aussie dat hy van openbare vervoer gebruik gemaak het, maar hy is darem baie naïef om te dink dat hy op die hande gedra sou word; dat sy onvleiende kritiek en sarkasme nie die haat sou laat opvlam het nie. Dalk moet hy meer van die Britse geskiedenis, kolonialisme en onderdrukking gaan nalees om vas te stel waar die haat teenor die Engelse vandaan kom. Dalk moet hy ook daaroor gaan nalees voordat die Engelse in Junie deur Suid-Afrika toer.

Jones is glo omgekrap omdat die Skotse stut Simon Berghan gesê het dat almal die Engelse haat. Só ook die gewese Skotse en Britse en Ierse Leeus-heelagter Gavin Hastings (wat ‘n jintelman is), wat gesê het dat die ondersteuners die nederlaag in Jones se gesig moet invryf (wat die Skotse ondersteuners op die trein glo letterlik en figuurlik gedoen het).

Dalk moet Jones ʼn wag voor sy mond plaas, minder arrogant voorkom, die ander span (veral voor die tyd) nie afkraak of hul swak plekke in die openbaar probeer uitbuit nie. Hou dit vir die spanpraatjie; hou dit in die kleedkamer.

In 1997, toe die Britse en Ierse Leeus die eerste keer sedert 1980 weer deur Suid-Afrika getoer het, was dit baie opvallend hoe die Iere, Walliese en Skotse joernaliste kant gekies het en saam met ons Suid-Afrikaanse joernaliste op ʼn Bok-oorwinning gehoop het.

Dit was ook van Jake White en Peter de Villiers se groot probleme. Hulle het ook nie geweet waar om die brieke aan te draai nie.

Hopelik het Rassie Erasmus daardie les reeds geleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Robert ·

Kyk die rolprent Rob Roy dan sal mens verstaan hoekom die Poms gehaat word. Ek is ‘n trotse Skot.

bloues ·

Pieter.
Daar was jy toe reg en ek verkeerd. Die Ingelse onder leiding van Eddie Jones kon toe geklop word. Dit gee my hoop dat Springbok rugby ook weer kan begin wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.