Eddie Jones se lakmoestoets

Dis ʼn geveg wat jy eintlik nie kan wen nie, een van daardie nagmerries wat vir enige rugbyafrigter gryshare gee.

Eddie Jones – die druk neem toe. (Foto: Twitter)

Miskien is dít hoekom so baie afrigters hul hare afskeer: om nie te wys hoe vinnig die stoute seuns van rugby hulle verouder nie.

Die Engelse afrigter, Eddie Jones, is nou voor een van die moeilikste besluite van sy loopbaan. Moet hy die geniale Danny Cipriani nóg ʼn kans gee?

ʼn Mens het simpatie met Jones, want geoordeel aan sy vermoë en spelpeil, behoort Cipriani ʼn sekere keuse vir die Engelse span te wees. Maar Jones het daarteen besluit.

Baie oud-spelers ondersteun Jones, maar ander soos Will Greenwood, Stuart Barnes, Phil Vickery, Tom May en Brian O’Driscoll sê Cipriani hoort minstens in ʼn vergrote groep.

Ja, dis heeltemal waar. Maar wat gebeur as hy die dag (wéér) uitrafel? Jones het vir hom in Junie ʼn kans gegee met die Engelse toer na Suid-Afrika. Hy is gemaan dat hy huis toe gestuur sou word as hy sou oortree… en hy het nie.

Danny Cipriani – moet hy weer kans kry? (Foto: Premiership Rugby).

Cipriani het Engeland in die derde toets teen die Bokke op Nuweland boonop tot ʼn oorwinning aangespoor.

Maar slegs ʼn paar weke daarna is hy ná ʼn nagklub-voorval op ʼn toer van Johan Ackermann se Gloucester-klub skuldig bevind aan aanranding. Het hy nie toe sy laaste brug verbrand nie, of moet ʼn  mens maar (weer) anderkant toe kyk?

Wat gebeur as hy aanstaande jaar in Japan tydens die Wêreldbeker-toernooi weer oortree?

Wie se kop gaan dan rol?  Wees maar verseker, Jones sal nie daarna weer vir Engeland afrig nie.

♦ Feitlik alle rugbylande en -spanne was al voor dié probleem. Van die hoogste tot op die laaste vlak.

Kitch Christie het net gesug wanneer daar oor James Small en James Dalton gepraat is. Albei geniale, passievolle spelers, maar ai…

Die Aussies het hul kwota probleme met James O’Connor en Kurtley Beale gehad.

Wat van Engeland se Manu Tuilagi, wat in Auckland se hawe gespring het (en nou weer deur Jones betrek is), of Mike Tindall, wat destyds met 25 000 pond beboet is nadat hy in ʼn Nieu-Seelandse kroeg tydens die Wêreldbekertoernooi in 2011 was waar dwergies rondgegooi is?

Boonop het hy ogies vir ander vroue gemaak terwyl hy op trou met Zara Phillips (prinses Anne se dogter) gestaan het.

Engelse skandes!

En wat van die Walliese agsteman Andy Powell wat vroegoggend en glo stormdronk met ʼn gholfkarretjie op ʼn snelweg gery het?

So kan ons aangaan…

♦  Sondag kom Cipriani (Gloucester) in ʼn Engelse Premierligawedstryd teen Owen Farrell (Saracens) te staan.

As Cipriani dié tweestryd wen, sal Jones se aandele verder daal en sal hy byna verplig word om Cipriani te betrek.

Die media het reeds teen Jones gedraai en so ook die ondersteuners.

Daar is net één wenner in hierdie geveg… en ek glo nie dis Jones nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.