Eddie Jones skok met sy Engelse groep teen Bokke

Daar is vooraf baie geskryf en gepraat oor die vurige Michael Rhodes wat sy oud-Suid-Afrikaanse spanmaats Saterdag op Twickenham sal pak wanneer Engeland teen die Springbokke speel.

Maar van al dié praatjies gaan daar dadels van kom.x

Daar is algemeen verwag dat die Engelse rugby-afrigter Eddie Jones, vir Rhodes (wat in Suid-Afrika vir die Sharks, Lions en Stormers gespeel het voordat hy na Saracens in Londen verhuis het) teen die Bokke sou kies om as teenvoeter vir Duane Vermeulen-hulle se kragspel te dien.

Rhodes, reeds 30 jaar oud, het in Julie vanjaar aan die verblyfkwalifikasies voldoen om vir Engeland te speel. Hy sal egter ʼn rukkie langer moet wag voordat hy ʼn toetswedstryd vir sy aangenome land sal kan speel.

Hy is een van tien spelers, wat in Portugal saam met die Engelse vir die komende reeks toetswedstryde voorberei het, wat vrygestel is.

Ewe verrassend is die harde agtsteman Ben Morgan en die slot Courtney Lawes, wat met rugspasmas sukkel, ook nie in die groep van 25 spelers is nie.

Joe Marler (stut, uitgetree), Joe Launchbury (slot, beseer), Chris Robshaw (flank, beseer) en Nathan Hughes (agsteman, beseer), wat almal die Bokke in Junie in die derde toetswedstryd op Nuweland met 25-10 getroef het, is ook nie daar nie.

Dit laat die Engelse maar dun voorlangs, hoewel die medekaptein, Dylan Hartley (haker) en die slot George Kruis, wat die toer misgeloop het, weer terug in die tuig is.

Die grootste skok is egter die weglating van die 33-jarige veteraan heelagter/vleuel Mike Brown, wat in 29 van die 31 toetse onder Jones gespeel het.

Brown het vleuel in die drie toetswedstryde in Junie teen die Bokke gespeel, maar dis duidelik dat Jones eerder die Bokke se vaart en vlugvoetigheid met dié van Elliot Daly (heelagter) en Johnny May en Jack Nowell (albei vleuels) wil troef.

Dan sal nog ‘n veteraan Chris Ashton, wat laas in 2014 toetsrugby gespeel het, straks as plaasvervanger gekies word.

Is dié Engelse groep beter as die span wat in Junie teen die Bokke gespeel het?

Nee, maar dan speel hulle tuis, daar word ligte reënbuie voorspel en is die Bokke beslis kwesbaar sonder hul oorsese klubspelers, soos Willie le Roux, Faf de Klerk en Francois Louw. Die kans is ook goed dat Manu Tuilagi, die kragtige senter wat lank beseer was, ingespan sal word om die Bokke in die middelveld te troef.

Die Engelse groep van 24 spelers ‒

Voorspelers
Tom Curry (Sale Sharks), Charlie Ewels (Bath Rugby), Jamie George (Saracens), Dylan Hartley (Northampton Saints) medekaptein Alec Hepburn (Exeter Chiefs), Maro Itoje (Saracens), George Kruis (Saracens), Zach Mercer (Bath Rugby), Ben Moon (Exeter Chiefs), Brad Shields (Wasps), Kyle Sinckler (Harlequins), Elliott Stooke (Bath Rugby), Harry Williams (Exeter Chiefs), Mark Wilson (Newcastle Falcons).

Agterspelers
Chris Ashton (Sale Sharks), Danny Care (Harlequins), Elliot Daly (Wasps), Owen Farrell (Saracens) medekaptein, George Ford (Leicester Tigers), Jonny May (Leicester Tigers), Jack Nowell (Exeter Chiefs), Henry Slade (Exeter Chiefs), Ben Te’o (Worcester Warriors), Manu Tuilagi (Leicester Tigers), Ben Youngs (Leicester Tigers).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

bollie ·

Maroela – Oorweeg asseblief die moontlikheid om die kleur van die geskrif onderaan fotos te verander want so baie fotos het ‘n wit agtergrond en dan kan mens nie lees wat onderaan staan nie. Ek stel ‘n neutrale kleur soos skakerings van grys voor.

Paul Maritz ·

Kan iemand asb. vir my verduidelik waarom so baie van Sale Sharks se spelers mag speel maar Faf nie? Selfde met Wasps en Willie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.