Eddie Jones verras met sy Engelse span

Rugbyafrigters laat ʼn mens deesdae kwaai kopkrap.

In Nieu-Seeland het die All Black-keurders besluit om hul beste heelagter, Ben Smith, vleuel toe te skuif vir die eerste van drie toetse teen die Franse.

In Suid-Afrika het die Engelse afrigter, Eddie Jones, dieselfde roete gevolg deur die heelagter, Mike Brown, op vleuel gekies vir Saterdag se eerste toetswedstryd teen die Springbokke op Ellispark.

Brown, wat reeds 69 toetse gespeel het, het laas in 2015 in ʼn toetswedstryd vleuel gespeel.

Is dit nie ʼn groot waagstuk nie, veral omdat Jones sy betroubaarste vleuel, Elliot Daly, nou heelagter toe skuif?

Daly het in 16 van sy 21 toetse vleuel gespeel, vier keer senter en een keer is hy noodgedwonge as agsteman van die plaasvervangersbank af opgestuur.

Ja, die agterste driehoek sal ʼn baie belangrike rol speel, veral met Faf de Klerk en Handré Pollard in die Springbokspan. Die Engelse verwag ʼn lugaanval, al het die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, gesê dis nie soos hy wil speel nie.

Voorlangs maak die jong slot Nick Isiekwe sy toetsbuiging in die beseerde Joe Launchbury se plek.

Isiekwe (20) is nog nat agter die ore, maar is vurig en beweeglik (2,01 m en 120 kg).

Nog ʼn jongeling, Tom Curry (19) sal in sy tweede toets speel. Dié flank is glo die antwoord op Neil Back, kort en kragtig (1,85 m en 102 kg).

Hy ken Faf de Klerk se spel soos ʼn handskoen, aangesien hulle albei die afgelope Engelse seisoen saam vir die Sale Sharks gespeel het.

Curry, wie se tweelingbroer, Ben, die Engelse op die o.20-Wêreldkampioenskappe in Frankryk aanvoer, het verlede jaar die jongste Engelse flank en ook die tweede jongste voorspeler sedert 1912 geword wat vir Engeland uitgedraf het.

Die ander interessante keuses is dié van die kaptein, Owen Farrell, op senter met George Ford op losskakel, hoewel dit algemeen verwag is.

Maar daar is steeds geen plek vir Danny Cipriani nie.

Dan is die Hurricaneskaptein, Brad Shields, wat eers Maandag die eerste keer sy nuwe spanmaats ontmoet het, op die bank ingesluit.

Wees maar verseker dat hy en die harde agtsteman Nathan Hughes in die tweede helfte opgestuur sal word.

Kan die Engelse die Bokke klop?

Ek weet darem nie so mooi nie, want hulle is baie uitgedun, sonder selfvertoue ná drie neerlae in ʼn ry en ook die loesing teen die Barbarians ‒ én hulle speel op Ellispark.

Maar as jy darem na die Bokke se vertonings van die afgelope twee jaar gekyk het, en ná Saterdag se vertoning in Washington teen ʼn verlepte Walliese span, kan dit baie maklik gebeur.

Die Engelse is immers tweede op die wêreldranglys en die Bokke sewende.

Die Engelse span ‒
Elliot Daly, Jonny May, Henry Slade, Owen Farrell, Mike Brown, George Ford, Ben Youngs, Billy Vunipola, Tom Curry, Chris Robshaw, Nick Isiekwe, Maro Itoje, Kyle Sinclar, Jamie George, Mako Vunipola. Bank: Luke Cowan-Dickie, Joe Marler, Harry Williams, Brad Shields, Nathan Hughes, Ben Spencer, Piers Francis, Denny Solomona.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

LHS ·

O heng, dit is nie die Ingilse wat n lugaanval hoef te vrees nie, dit is die arme bokkies wat die lugaanval gaan kry. Lugaanvalle is net doeltreffend met goeie opvolgwerk en dit is ook dan presies die rede waarom sy vleuel en heelagter omgeruil is. Opvolg en slaankrag na beide kante met Elliot Daly. Ek kry vir arme Willie op heelagter baie jammer, hy sal die vleuels moet gaan ondersteun en nie die vleuels die heelagter nie.

Peet ·

Jy moet eers die bal kan skop ;D iets wat ons nie kan doen nie, ons kan nie eens uit skop nie, wat van aanval met skoppe

Rooikop ·

Ek hoop nie so nie maar…………………ek is bevrees ons gaan weer ons alie sien ………….

Verby met Doris Day ……………… Ons sal NOOIT WEER n bok span hê soos die bokke
van die 1995 Wêreldbeker wat ons gewen het nie …………….. Hulle was ysters ………..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.