Eddie land weer op sy voete

Eddie Jones is as Japan se nuwe hoofafrigter aangewys. (Foto: Sebastien Bozon/AFP)

Japan se rugbybase het vandag bevestig dat Eddie Jones van 1 Januarie 2024 die land se nuwe rugbyafrigter is. Dit is net ʼn paar weke nadat sy Wallaby-bootjie weens ʼn rampspoedige Wêreldbeker-toernooi in Frankryk skipbreuk gely het.

Dit sal die 63-jarige Australiër se tweede sessie saam met Japan wees nadat hy tussen 2012 en 2015 ook aan die stuur van die groep was.

Een van die hoogtepunte van sy aanvanklike afrigtersbeurt saam met die Dapper Bloeisels was die oorwinning van 34–32 teen die Springbokke in ʼn Wêreldbeker-wedstryd in Brighton.

“As ʼn mens na Jones se vermoë kyk om probleme te identifiseer en oplossings uiteen te sit, was hy beter as enige van die ander kandidate,” het Kensuke Iwabuchi, uitvoerende hoof van Japan se rugbybeheerliggaam, gesê.

Volgens Iwabuchi het Japan nie onderhoude met die afrigter gevoer  terwyl hy saam met die Wallabies was nie. Daar is glo egter deur ʼn derde party gewerk om “inligting” in te samel.

Jones kry die afgelope ruk die wind van voor. Hy is in Desember 2022 deur Engeland in die pad gesteek nadat hy ʼn rits toetse verloor het, terwyl hy daarna ook nie te waffers in Australië gevaar het nie.

Ondanks die Aussie-rugbybase se versekering dat hulle “die beste afrigter ter wêreld aangestel het”, kon hy slegs twee van sy nege toetse saam met die Wallabies wen, terwyl die span ook nie verder as die groepfase van die Wêreldbeker-skouspel in Frankryk kon vorder nie.

Maar Jones het oudergewoonte weer op sy voete geland en Iwabuchi praat reeds van sy rol in aanloop tot die volgende Wêreldbeker in 2027.

ʼn Toernooi wat in Australië aangebied word.

Onder Jones se toesig het die Rose wél geblom

Ondanks ʼn teleurstellende 2022 – waar die nederlaag teen die Springbokke op Twickenham die laaste strooi was – het Jones glad nie sleg in Engeland gevaar nie.

Sy wenpersentasie (73%) is die hoogste onder alle Rose-afrigters, terwyl hy drie keer die Sesnasies-silwerware saam met die span omhoog gehou het. Dan was daar die merkwaardige lopie van 18 onoorwonne wedstryde, terwyl die Engelsmanne ook onder sy toesig tot die Wêreldbeker-eindstryd in 2019 gevorder het.

Hy praat wel soms te gou

Jones het vóór Australië se Rugbykampioenskap-kragmeting teen die Suid-Afrikaners op Loftus Versfeld oor ʼn “halfgebakte” Springbokspan gekla.

“Ek het gehoop vir hul beste span. Ek wil nie teen ʼn halfgebakte Springbokspan wen nie,” het Jones aan verslaggewers in Sydney gesê.

ʼn Vlieënde Kurt-Lee Arendse het egter toegesien dat die tuisspan nie net die wedstryd maklik wen nie, maar sommer ook dat Jones sy woorde sal tel wanneer die Wallabies weer teen die Bokke kragte meet.

Die eindtelling was 43 – 12 in Suid-Afrika se guns.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.