Edinburgh leer Sharks ʼn les

Die eindtelling was 21-5 in Edinburgh se guns. (Foto: Sharks/Facebook)

Wanneer dit die dag katte en honde reën, moet enige rugbyspan ʼn losskakel hê wat kan skep en Curwin Bosch kon maar net nie die mas opkom tydens Saterdag se kragmeting teen Edinburgh in Durban nie.

Hoewel die Sharks op hul tuisveld gespeel het, was die eindtelling op die ou einde 21 – 5 in die guns van die besoekers.

Alles het in die Sharks se guns getel; hulle het die meeste balbesit (57%) en gebiedsvoordeel (65%) gehad én het hul teenstanders in die skrum opgefrommel, maar hulle kon nou maar net nie die uitklophou plant nie.

Edinburgh het hul kanse geduldig afgewag en die krummels wat na hulle kant toe gekom het, opgeslurp deur die bal wyd te speel.

Bosch, hoe hard hy ook al probeer het, kon maar nie gesag afdwing nie. Boonop was sy skopskoen skynbaar ook tuis en hy het takties swak geskop.

(Foto: Edinburgh/Facebook)

Die Sharks kan hulself sekerlik skop, want Ox Nche, Bongi Mbonambi en Thomas du Toit het die Edinburgh-skrum in trurat gehou en strafskop ná strafskop afgedwing.

Die drag slae is net ʼn tydelike terugslag vir die Sharks, maar dit kan hulle seermaak as die Bulls en Stormers bly wen.

Op papier het die Sharks nie hul gelyke nie, maar hulle sal ʼn losskakel moet vind wat kan oorheers, wat die yster kan smee terwyl dit warm is.

Dit lyk ook nie of hul Argentynse kopie, Tito Bonilla, die antwoord is nie.

Punte: Sharks  5 (0): Drie: Thomas du Toit.

Edinburgh 21 (7 ): Drieë: Blair Kinghorn (2). Emiliano Boffelli. Doelskoppe: Boffelli (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anton ·

Hopelik sal die Sharks tog nou ontslae raak van Curwin Bosch. Hope talent maar totaal useless onder druk, selfs voor die pale

Jakes ·

Die Sharks se patetiese spel is n verleentheid vir sy aanhangers. Bosch moet eerder klubrugby speel want sy spel is nie op standaard nie. Ander spelers in die span is nie veel beter nie en n mens moet Everitt se afrigting bevraagteken.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.