Een van die oudste Springbokke oorlede

Clive Ulyate druk ‘n drie teen Otago tydens die Springbokke se Nieu-Seelandse toer in 1956.

Dis darem ʼn skande dat oud-Springbokrugbyspelers nie meer in hul die eie land geëer word nie, of só kom dit altans voor.

Een van Suid-Afrika se mees begaafde Springbok-losskakels en veelsydige sportmanne, Clive Ulyate, is Sondagaand in Virginia oorlede.

Hy was met sy dood een van die oudste lewende Springbokrugbyspelers (84), maar dit het drie dae vir die Suid-Afrikaanse Rugbyunie geneem om ʼn huldeblyk te lewer.

Vier van Ulyate se toermaats op die 1956-toer in Nieu-Seeland, Theuns Briers (88), Johan Claassen (88), Jan du Preez (87) en James Starke (86), tel onder die vyf oudste lewende Springbokke.

Ulyate het in sewe toetse vir die Springbokke tussen 1955/’56 gespeel. Hy was in al vier toetse die losskakel teen Robin Thompson se Britse Leeus-toerspan en het in drie toetse in 1956 vir die Bokke in Nieu-Seeland uitgedraf.

Hy is as 19-jarige vir Transvaal gekies toe hy aan die Universiteit van die Witwatersrand gespeel het nadat hy in 1951 vir die Natalse skolespan gespeel het.

Sy loopbaan is deur beserings beëindig toe hy net 22 jaar oud was en niemand weet hoe goed hy werklik was of hoeveel impak hy vir die Bokke kon gemaak het nie.

Hy was ook ʼn baie begaafde krieketspeler en het vir Transvaal en die Oostelike Provinsie gespeel. Gaan praat maar met die ouer garde, daar is diegene wat sê dat hy baie na aan die Springbokkrieketspan was.

Hy sou kans in een van die wedstryde teen die Engelse toerspan van 1956/’57 gekry het, maar hy is ná die Springbokrugbytoer van 1956 in Nieu-Seeland en Australië, Amerika toe om die wêreld te gaan verken.

Sy broer het hom dringend in Amerika probeer opspoor, maar toe hy hom in die hande gekry het, was dit reeds te laat.

Ulyate was ook ʼn begaafde gholfspeler en in ʼn onderhoud ʼn paar jaar gelede het hy met trots vertel hoe hy op 75-jarige ouderdom 32 houe oor nege putjies aangeteken het.

Hy het ook provinsiale hokkie en muurbal gespeel nadat hy hom in Grahamstad by die Rhodes-universiteit as sportbeampte gevestig het voordat hy by St. Andrew’s gaan skoolhou het. Hy is toe Goudveld toe waar hy tot en met sy afsterwe gebly het.

♦ Terloops: Die gewese All Black en Samoaanse flank Dylan Mika is ook vandeesweek oorlede. Die nuus oor sy afsterwe en huldeblyke, soos dit hoort, is binne ʼn dag wêreldwyd uitgestuur en uitgesaai, ook in Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.