Eens blink Curriebeker-glans verdof al hoe meer

Curriebekerglorie deur die jare. (Foto: Bidorbuy)

11 Augustus 2017 … ʼn Geskiedkundige dag, ene wat vergelyk kan word met die bekendstelling 17 jaar gelede van die Super12-reeks.

Dit was Vrydag die woorde van Jurie Roux, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), toe die Pro14-reeks in Kaapstad bekend gestel is.

Maar dis ook die dag waarop die Curriebekerreeks verder opsy geskuif is om terug te staan vir die Pro14-reeks waarin die Cheetahs en Southern Kings gaan meeding.

Dit kan nie anders nie, want hoe kan die Vrystaat-Cheetahs op dieselfde dag in die Curriebeker-reeks en die Cheetahs in die Pro14-reeks speel?

Die Pro14-reeks moet voorkeur kry, die reeds verwaterde Curriebekerreeks gaan ingekort word.

Maar wat van 125 jaar se Curriebekertradisie? Wat van die eindstryd van 1970 toe Griekwas Noord-Transvaal met 11-9 in Kimberley geklop het? Wat van die goue jare van die Westelike Provinsie in die tagtigerjare onder Dawie Snyman toe die WP die beker vyf jaar opeenvolgens tussen 1982 en 1986 gewen het?

Wat van Natal se skoksege oor Noord-Transvaal in die eindstryd 1990 toe hulle met 18-12 gewen het – die eerste keer in 100 jaar?

Wat van Transvaal se sege in 1993, toe hulle die eerste keer in 22 jaar die Curriebeker gewen het?

Wat van die onervare Blou Bulle wat die Springbokgelaaide Westelike Provinsie in 1998 uitgestof het?

Wat van die Cheetahs wat die Bulle in 2005 op Loftus verslaan het, en Ollie Roux die rook van sy sigaar oor Loftus laat uitborrel het?

Wat van legendes soos Frik, Piet en Mof? Wat van Koning Naas, Liefling, Francois Pienaar en Carel du Plessis?

Ja, die lewe gaan oor geleenthede en keuses, oor die groter prentjie, maar ai, dit maak seer dat die glans al hoe meer van die Curriebeker afgehaal word.

Ons het immers daarmee grootgeword.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Waghond ·

Tye het verander. Geld het meegebring dat die Curriebeker se glans verdof het en nie die gloriedae van weleer sal herleef nie. Tragies!

Veritas ·

Waghond dit is voorwaar hartseer. Daar was iets in die amateurkode wat verdwyn het met die koms van geldrugby. Beroepsrugby het beslis sy plek maar tans word amateurrugby heeltemal opsy geskuif. Wat word vandag van die rugbyspeler wat dit as sport beoefen? Diegene wat rugby speel tot hy sak na die klub se laagste ligaspan so in sy laat dertigs of selfs veertigs en elke oomblik daarvan geniet. Dít is die ruggraat van ons rugby en met die koms van geldrugby het die getalle stadigaan afgeneem en die kwotastelsel het die afname versnel. Hartseer maar waar.

Disselboom ·

Tye stap aan, en as mens nugter daarna kyk, is die Curriebeker ook maar ‘n erfenis van – om dit nou so te stel – die mense van Europese herkoms in Suid-Afrika se gewoontes en tradisies. Net soos baie ander terreine, soos medies, onderwys, sekuriteit, ook plek maak vir politieke korrektheid en geldgedrewenheid. Ons speel immers nie meer sport vir ontspanning nie: dis ‘n beroep en dis groot besigheid met baie op die spel vir die mense met die vet beursies wie se beursies (en gevoel van besit en mag) nog vetter moet word.

MH ·

Ek is so bly ek het grootgeword in die jare van Frik, Piet en Mof. Die oorweldigende emosies van opgewondenheid, vreugde, lojaliteit en trots van daardie dae kan nie deur deesdae se getjommel by enigiemand ontketen word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.