
Rassie Erasmus en Handré Pollard vier die Springbokke se Wêreldbeker-oorwinning teen die All Blacks op die Stade de France. (Foto: Franck Fife/AFP)
Die Springbokke teen die All Blacks is een van die grootste tweestryde op die internasionale rugbyverhoog en spelers van al twee spanne sê gereeld dat só ʼn toets die beste uit hulle op die veld haal.
Maar in aanloop tot Rassie Erasmus se amptelike aanstelling op 1 Maart 2018 het dinge maar swaar met die Bokke gegaan.
Die Suid-Afrikaners het in Oktober 2016 met 57–15 teen die Kiwi’s in Durban verloor, waarna hulle in September 2017 met 57–0 in Albany die onderspit gedelf het.
ʼn Eenpuntnederlaag (25–24) ʼn maand later op Nuweland kon min vermag om die Bokke se naam in ere te herstel en ondersteuners was met reg bekommerd.
Cometh the hour, cometh the man, soos die Engelsman sê: In 2018 het Erasmus nie net die Bokke na hul beste vertoning sedert 2014 in die Rugbykampioenskap gelei nie, maar ook toegesien dat Suid-Afrika weer ʼn slag teen Nieu-Seeland slaan.
Twee drieë deur Aphiwe Dyantyi het gesorg dat die Bokke met 36–34 in Wellington wen; hul eerste oorwinning teen die All Blacks in sewe toetse.
“Ons het alles teen hulle probeer, maar Suid-Afrika het uitstekend verdedig en hulle verdien ongetwyfeld die oorwinning. Hulle het ons onder kwaai druk geplaas,” het Nieu-Seeland se Kieran Read ná die wedstryd gesê.
Sedert daardie dag in Wellington het die Springbokke en die All Blacks elk vyf toetse gewen, terwyl daar in 2019 ook ʼn gelykop uitslag was.

Deon Davids en Erasmus spog met die Webb Ellis-trofee nadat die Springbokke vir Nieu-Seeland met 12 – 11 in Parys geklop het. (Foto: Twitter/Springbokke)
Die Bokke het egter verlede maand in waarskynlik die belangrikste wedstryd van die spul koning gekraai, toe hulle met die Wêreldbeker-louere op die Stade de France weggestap het.
Boonop sal Erasmus weer die nasionale afrigtersfluitjie vasvat met die oog op die volgende Wêreldbeker-toernooi in 2027.
“Ek kan bevestig dat Rassie Erasmus sy pligte as direkteur van rugby met dié van Springbok-afrigter sal kombineer,” het ʼn hooggeplaaste in die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) Sondag aan AFP bevestig.
Van 57–0 na Wêreldbeker-brekers. Dankie, Rassie en span.
Suid-Afrika/Nieu-Seeland-uitslae sedert Erasmus deel van die Springbok-afrigteropset is:
15 September 2018: Suid-Afrika 36 – 34 Nieu-Seeland in Wellington
6 Oktober 2018: Nieu-Seeland 32 – 30 Suid-Afrika in Pretoria
27 Julie 2019: Suid-Afrika 16 – 16 Nieu-Seeland in Wellington
21 September 2019: Nieu-Seeland 23 – 13 Suid-Afrika in Jokohama
25 September 2021: Nieu-Seeland 19 – 17 Suid-Afrika in Townsville
2 Oktober 2021: Suid-Afrika 31 – 29 Nieu-Seeland in die Gold Coast
6 Augustus 2022: Suid-Afrika 26 – 10 Nieu-Seeland in Nelspruit
13 Augustus 2022: Nieu-Seeland 35 – 23 Suid-Afrika in Johannesburg
15 Julie 2023: Nieu-Seeland 35 – 20 Suid-Afrika in Auckland
25 Augustus 2023: Suid-Afrika 35 – 7 Nieu-Seeland in Londen
28 Oktober 2023: Suid-Afrika 12 – 11 Nieu-Seeland in Parys
Punte vir Suid-Afrika: 259
Punte vir Nieu-Seeland: 251
50% well done.
Twee wêreldbekers well done !
kragaap, presies, well done.