Eers bergfietswedren, dán eindstryd

Die geskarrel tydens ’n Alzu Tour de Farm-bergfietswedren. Foto: Facebook.

Wat maak jy as jy daarvan hou om jou bergfiets se speke te laat sing, maar terselfdertyd ook nie die aksie van die Wêreldbeker-eindstryd tussen die Springbokke en Engeland hierdie naweek wil misloop nie?

Wel, die organiseerders van die Alzu Tour de Farm-bergfietswedren het gesorg dat jy Saterdag twee sportvlieë (fietsry én rugby) met een ordentlike klap raakslaan!

Die gewilde wedren by die Alzu Petroport op die N4-hoofweg tel as een van die vinnigste bergfietswedrenne in die land, terwyl dit ook met van die lekkerste prysgeld spog.

Maar indien jy bekommerd is dat jou bene nie so vinnig soos ’n Max Knox, ’n Gustav Basson of ’n Marnus Potgieter kan trap nie, moenie vrees nie: Daar is besluit om die 80 km-roete na 64 km te verkort sodat deelnemers die rugby op die grootskermtelevisie by dié indrukwekkende vulstasie kan volg.

“Ons het heelwat navraag van deelnemers gekry wat die 80 km-roete ry of hulle die rugby-eindstryd kan kyk. Juis hieroor het ons besluit om die roete na 64 km te verkort,” het Alzu se Marguerite Schwarzer gesê.

“Dit sal ’n vinnige roete tussendeur ’n paar plase se mielielande wees en die meeste deelnemers behoort die roete binne drie en ’n half uur te voltooi.”

Nog beter nuus is dat die prysgeld onveranderd sal bly. Jy kan dus steeds die wentjek van R20 000 in jou sak steek, vir 16 km se minder trapmoeite!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fietsryer ·

Ek is ‘n deelnemer (wat van ver af ry, hierdie wedren is my ‘bederf’ ren) en is tog spyt dat daar nie ‘n keuse van roetes gegee is, die verkorte een of dan die geadverteerde 80.
Ek sou nooit ingeskryf het as dit slegs ‘n 63km gewees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.