Eers die Bulls, dan Junior Bokke se opwarmtoer vir Damian

Damian Willemse – sluit eers aanstaande week by die Junior Bokke aan vir opwarmtoer. (Foto: @twitter Junior Springboks)

Damian Willemse sal net die Stormers se wedstryd op 12 Mei op Nuweland teen die Chiefs misloop nadat hy eers by die Suid-Afrikaanse o.20-toerspan vir hul laaste opwarmwedstryd op 11 Mei in die VK aansluit.

Hy is dus vir die naweek se Superwedstryd teen die Bulls beskikbaar, het SA Rugby verlede week laat weet.

Die Stormers se jong losskakel is Maandag ingesluit in die o.20-span wat van 30 Mei tot 17 Junie aan die o.20-Wêreldkampioenskap in Frankryk deelneem.

Die span, wat sewe spelers insluit wat aan verlede jaar se Wêreldkampioenskap deelgeneem het, sal deur die slot Salmaan Moerat aangevoer word.

Dit is interessant dat twee spelers, Phendulani Buthelezi en David Kriel van die 29 spelers wat van Vrydag teen Skotland, Wallis en Engeland in opwarmwedstryde speel, nie ingesluit is in die 28-tal wat in Frankryk aan die o.20-Wêreldkampioenskap deelneem nie.

Ruaan Vermaak, slot van die Goue Leeus wat nie op die opwarmtoer is nie, is egter vir die Wêreldkampioenskap gekies.

♦ Willemse sal weens die toernooi (moontlik) net die Stormers se wedstryd op 26 Mei op Nuweland teen die Lions misloop. Die meeste Superspanne het Junie weens die inkomende spanne van die Noorde geen wedstryde nie en die Stormers speel eers weer op 30 Junie.

♦ Benewens Willemse is die Blitsbok Muller du Plessis ook nadergetrek vir die o.20-toer. Hy het die naweek in Singapoer in sy vierde toernooi vir die Blitsbokke gespeel, maar sal die laaste twee sewestoernooie in Londen en Parys misloop nadat hy vir die Junior Bokke gekies is.

Die Junior Bokke word vir die opwarmtoer ook deur Moerat, ʼn gewese kaptein van die SA Skolespan wat vanjaar al Superrugby vir die Stormers gespeel het, aangevoer.

Die span vir die o.20-Wêreldkampioenskap (alfabeties) –

Zak Burger, Ben-Jason Dixon, Lubabalo Dobela, Muller du Plessis, Schalk Erasmus, Tyrone Green, Jack Hart, Lyle Hendricks, Daniel Jooste, Cohen Kiewit, Rewan Kruger, Gianni Lombard, Nathan McBeth, Salmaan Moerat (kapt.), Sihle Njezula, Ruan Nortjé, Asenathi Ntlabakanye, Rikus Pretorius, Manuel Rass, Sazi Sandi, Dian Schoonees, Wandisile Simelane, PJ Steenkamp, Alulutho Tshakweni, Muller Uys, Tiaan van der Merwe, Ruan Vermaak Damian Willemse.

Junior Bokke se opwarmtoer –

4 Mei – Skotland in Edinburgh
8 Mei – Wallis in Cardiff
11 Mei – Engeland in Worcester
 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.