Eers Joost, toe Lauaki, nou Vickerman

Dan Vickermann (Foto theaustralian.com.au).png

Dan Vickermann (Foto theaustralian.com.au).png

Die ou mense sê hulle is besig om in ons woud te kap.

Twee weke gelede was dit die gewese Springbok-skrumskakel Joost van der Westhuizen (43), toe die oud-All Black- en Tonga-losvoorspeler Sione Lauaki (35), en Saterdagaand is die Wallaby-slot Dan Vickerman (37) dood in sy huis in Sydney aangetref … glo selfdood.

Mickey Gerber, `n oud-Springbok-heelagter en nasionale keurderbaas, het altyd sy kop geskud wanneer daar oor Vickerman gesels is.

Vickerman was by Bishops in Kaapstad op skool en was `n lid van die Suid-Afrikaanse o.20-span wat die Junior All Blacks 27-25 in die eindstryd van die Internasionale Rugbyraad se o.20-toernooi in Buenos Aires geklop het.

Daar was Springbok op sy voorkop geskyf, maar Vickerman, wat as 17-jarige `n jaar lank in Engeland gespeel het, is deur groener weivelde na Australië gelok.

“Dis een van die grootste terugslae vir Springbokrugby,” het Gerber een aand op `n Springboktoer aan my gesê.

“As Daniel en Victor Matfield saam in `n span kon wees, sou geen span enige lynstaan teen ons wen nie. Ek het hard probeer om hom om te praat, maar kon nie daarin slaag nie. Hy gaan een van die grotes word,” het Gerber, wat in drie toetse tussen 1958 en 1960 vir die Bokke gespeel het, gesê.

Gerber was in die kol, want Vickerman (2,04 m en 116 kg) hét in een van die grotes ontwikkel en 63 toetse vir die Wallabies gespeel, insluitend drie Wêreldbekertoernooie.

Denker, dog fisiek

Anders as Clyde Rathbone, wat nie gewild in Suid-Afrikaanse rugbykringe was nie toe hy ook na Australië verhuis het, was Vickerman die teenoorgestelde.

Hy was `n denker van die spel, fisiek op die veld, het sy lyf vir sy spanmaats op die spel geplaas, maar was welsprekend, saggeaard en vol humorsin van die veld af.

Hy was op die kruin van die golf toe hy in 2008 besluit het om drie jaar lank op Cambridge in Engeland te gaan studeer.

Die rugbygogga het steeds gebyt en hy het in 2011 sonder veel welslae na Australië teruggekeer waar hy in die halfeindstryd teen die All Blacks gespeel het. Ernstige beserings het al hoe meer hul tol geëis en hy moes halt roep.

Daar word gesê dat hy gesukkel het om ná `n suksesvolle rugbyloopbaan aan te pas, iets wat hy hy juis vir ander spelers probeer doen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.