Eerste Afrika-kunsveld help jong SA, Duitsers

Windhoek-gimnasium maak poubors met die aflewering van die materiaal vir sy kunsrugbyveld, die eerste in Afrika. (Foto: Willem Strauss)

Windhoek-gimnasium maak poubors met die aflewering van die materiaal vir sy kunsrugbyveld, die eerste in Afrika. (Foto: Willem Strauss)

Afrika se heel eerste kunsrugbyveld kan vanjaar `n deurslaggewende rol in die voorbereiding van sowel Suid-Afrika as Duitsland se nasionale o.18-sewesspanne speel.

Dié veld van Windhoek-gimnasium word op 3 en 4 Maart ingewy met `n internasionale toernooi waaraan beide spanne deelneem.

Willem Strauss, die promotor van die toernooi, sê ses spanne neem aan die eerste internasionale Capricorn-groep-sewestoernooi deel. Benewens bogenoemde twee sluit dit ook `n SA All Stars-span en spanne van Namibië, Botswana en Zambië in.

Naas dié afdeling is daar ook `n senior afdeling, waaraan twee Namibiese hoëprestasiespanne en twee klubspanne sal deelneem, en skoleafdelings op o.13-, o.15- en o.19-vlak.

Sowel Suid-Afrika as Duitsland se nasionale o.18-spanne bestempel die toernooi as van sleutelbelang in hul planne vanjaar.

Die Junior Blitsbokke (o.18) het die goue medalje by 2015 se Statebondsjeugspele in Apia, Samoa, gewen, en Marius Schoeman, `n gewese Blitsbok en die bestuurder van die SA Sewesakademie, het aan Pale Toe! gesê as die span in Julie sy titel by vanjaar se jeugspele in Nassau, Bahama-eilande, moet verdedig, sal die Windhoekse toernooi uitstekende voorbereiding wees en deel van die proewe uitmaak.

Hope talent

Schoeman sê die span hou sy eerste oefenkamp van 24-26 Februarie, en sal eers daarna die span kies.

“Ons sal `n groep van 21 spelers na die kamp nooi. Hopelik sal alle spelers beskikbaar wees. Daar is regtig hope talent en ons sien daarna uit om met hierdie spelers te werk.”

Hy sê dis `n heeltemal nuwe groep as wat die 2015-titel gewen het, maar dis uiters talentvol. `n Paar van twee jaar gelede se gouemedaljewenners is vanjaar deur die SA Sewesakademie gekontrakteer.

Schoeman sê die beste voorbereiding vir sewesrugby is om in toernooie te speel.

`n Eerste kennismaking met die kunsoppervlakte. (Foto: Willem Strauss)

`n Eerste kennismaking met die kunsoppervlakte. (Foto: Willem Strauss)

“Toernooie soos hierdie is vir ons baie belangrik as deel van die baan vir die ontwikkeling om spelers voor te berei om in die toekoms vir die Blitsbokke te speel. Cheslin Kolbe, Kwagga Smith, Justin Geduld en Werner Kok het dieselfde roete gevolg.”

 Max Pietrek, die ontwikkelingsbeampte van die Rugbyraad van Hesse in Duitsland, sê die besoek aan Windhoek is die Duitse span se eerste stap ter voorbereiding van die Europese Seweskampioenskap wat later vanjaar in Duitsland plaasvind.

“In die huidige stadium van voorbereiding is die [Duitse] nasionale span byna op volle sterkte. Drie spelers is vanweë beserings afwesig,” het hy op navraag aan Pale Toe! gesê.

“In sewesrugby is speeltyd die belangrikste vir die ontwikkeling van elke span en individuele speler … om teen Suid-Afrika en Namibië te speel, is `n ongelooflike ervaring vir die spelers sowel as die beamptes.

“Dis `n wonderlike geleentheid om voor te berei.”

Pietrek verwag rugby van `n werklik hoë gehalte in Windhoek.

“Ons glo die spanne sal baie sterk met die bal in die hande wees. Die Duitse span sal waarskynlik in grootte ook heelwat van die Afrika-spanne verskil.

“Ons sien uit na ons aankoms op 2 Maart in Windhoek.”

Olimpiese Spele toe?

 Strauss sê die toenooi sal vir junior sewesspelers in Afrika `n baan na hul nasionale sewesspanne skep, “en wie weet, dalk kan dit die begin wees van `n aantal toekomstige Olimpiese spelers se loopbane”.

Hy het bygevoeg dat die toernooi beplan word om jaarliks plaas te vind, en dat daar in die toekoms meer internasionale spanne genooi sal word. “Wat die toernooi vanjaar absoluut eiesoortig maak, is dat dit die ingebruikneming sal wees van die eerste kunsmatige rugbyveld in Afrika. Dis soos die veld by Saracens in Engeland.”

 Colette Rieckert, die besturende direkteur van Windhoek-gimnasium, sê die skool is baie trots om die eienaar van die heel eerste kunsmatige rugbyveld in Afrika te wees.

Suid-Afrika o.18 in aksie teen Singapoer o.18 by 2015 se Statebondsjeugspele. (Foto: CYG)

Suid-Afrika o.18 in aksie teen Singapoer o.18 by 2015 se Statebondsjeugspele. (Foto: CYG)

“Ter inwyding van die nuutjie, is dit `n eer om hierdie groot sewestoernooi met ses internasionale en 12 plaaslike skolespanne aan te bied. Ons beplan ook om dit `n vaste afspraak op die internasionale en plaaslike sportkalender te maak.”

Sy sê Curro Holdings het Windhoek-gimnasium in Maart 2016 oorgeneem, en onderneem om goeie sportgeriewe op die terrein te skep.

“Vanweë streng waterbeperkings het die bestuur van Curro besluit om die belegging van N$12 miljoen [`n raps meer as R12 miljoen) te maak om hierdie puik gerief moontlik te maak. Curro is eweneens baie trots op die rugbyprestasies van Windhoek-gimnasium.”

Riekert sê die skool se sewesspanne vaar elke jaar uitstekend in hul ligas, en het die pas afgelope Safland-sewestoernooi op Swakopmund gewen.

“Ons stuur `n goeie o.13-, o.15- en o.19-span in die veld [vir die toernooi], en hoop die seuns sal lekker en mooi rugby speel en dit geniet – veral die eerste toernooi op hul mooi nuwe (groen!) rugbyveld.”

 Die wedstryde duur van 14:00 tot 21:30 Vrydag en 07:30 tot 18:00 Saterdag, en die organiseerders skud hul ere reg vir sowat 3 000 besoekers en spelers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.