Eerste Liga se rondomtalie op die spits gedryf

Die Curriebeker- Eerste Liga se rondomtaliefase word dié naweek op die spits gedryf met die halfeindstryd-bepalings nog wawyd oop.

Die Curriebeker-reeks word, omrede Saterdag se toets op Loftus Versfeld, eers aanstaande naweek hervat.

Die voorloper, Suidwestelike Distrikte – wat in Despatch teen die reeks se melkkoei, Oostelike Provinsie, speel – is ál span wat redelik seker van ʼn tuis-halfeindwedstryd is.

In Potchefstroom sal die Luiperds en die Valke mekaar heup en skenkel slaan, om die ander tuisbotsing te verdien.

Die Mielieboere het vanjaar nog net een keer verloor, maar hulle sal Vrydag hul hande met die Gautengers vol hê.

Die verdedigende kampioen, die Griffons, hoop om Grens in Oos-Londen te klop, en Boland sodoende ʼn halfeind-plek te ontsê.

Die Noord-Vrystaters, wat die seisoen swak afgeskop het, het verlede week teen die Luiperds verras om hul kans om die reeks weer te wen, lewend te hou.

Boland is tans vierde, maar hy het sy verpligtinge afgehandel, en selfs ʼn gelykop-uitslag in Oos-Londen sal beteken dat die Griffons hom verbysteek.

Die naweek se bepalings –

Vrydag

17:00 Luiperds teen Valke, Fanie du Toit-sportterrein, Potchefstroom.
19:00 Grens teen Griffons, Buffalostad-stadion, Oos-Londen.

Saterdag

15:00 OP teen SWD, WJ de Wet-stadion, Despatch.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.