Eerste ronde: verroestheid pla nog maar oral

superrugby-logo-regteDie eerste naweek se Superwedstryde het naastenby verloop soos verwag is – en nou praat ʼn mens nie net van die Suid-Afrikaanse spanne of uitslae nie.

Die allesoorheersende indruk is een van verroestheid. Samespel en verdediging het ook in  feitlik elke wedstryd hier en in Australasië gepla.

Reds 28 Sharks 26

Die Sharks sal drasties moet verbeter indien hulle wil hond-haaraf maak in die reeks.

Die verdediging was nie altyd op peil nie, hoewel dit grootliks individuele flaters was wat die Reds laat deurbreek het, en die Sharks se hardloopspel was meestal – veral in die agterlyn – nie veel meer as ʼn blote aanstoot van die bal van die een speler na die volgende nie. Die huidige senterpaar gaan beslis nie deug nie, in elk geval nie as kombinasie nie.

Die Beast was in die eerste helfte, in en buite die skrum, goed, maar het toe uitgesak.

Een van die vernaamste probleme vir die afrigter Robert du Preez is ongetwyfeld die min besit, (sowat 35%) wat die Sharks gewen het. Jy het die bal nodig om drieë te druk …

Die goeie nuus was die skakelpaar, Cobus Reinach en veral Pat Lambie, wat albei skerp was, ondanks Reinach se opsies wat soms nie gedeug het nie.

Die Reds gaan ʼn paar spanne op hul neuse laat kyk, en die Sharks ook. Maar as die Durbanse franchise by die uitspeelwedstryde wil uitkom, sal hulle besef die harde werk het nou maar eers begin – en sal iets gedoen moet word dat hulle meer besit kry.

Cheetahs 25 Lions 28

As ʼn span met vaardighede soos die Cheetahs byna 20 keer hanteerfoute maak wat net-net meer as die Lions s’n is, is daar fout.

Ook het die Cheetahs volgens die verdedigingstatistiek tweede viool gespeel. Die Cheetahs het 110 duikslae uitgevoer en ook 21 keer misgeduik, dus 21 uit 131 oftewel 16% wat onsuksesvol was. Die Lions se syfers is 79 duikslae, 11 waarvan misgeduik was en het dus 12,2% mislukte duikslae (11 uit 90).

Die Vrystaters se skrum het, veral aan die begin, swaargekry en die Lions het hierdie afdeling oorheers.  Dit is ʼn faset waar verwag is hulle sal vanjaar swaar leef sonder die beseerde stutte Julian Redelinghuys en Dylan Smith wat verlede jaar in die voorry  ʼn groot rol in hulle welslae gespeel het.

Kings vs Jaguares (26-39)

Oor die Kings kan ʼn mens allermins opgewonde raak, maar daar is tog die pluimpie dat hulle meer na ʼn span lyk as verlede jaar (hoewel dit nog ver van reg is) en dat hulle hul verdediging opgeknap het.

Agterlangs is daar heelwat vaart wat met samespel goed ingespan kan word – maar dan sal die hanteerwerk en afbreekpunte moet regkom. Daar sal ook aan hulle skrumwerk as eenheid geskaaf moet word. Die talent in die voorry is daar.

Die Kings gaan egter, as diepte nie hulle ondergang is nie, heelwat spanne laat uithaal.

Stormers 37 Bulle 24

Die intensiteit van veral die eerste helfte was iets ysliks. Genade was nie iets wat enigeen wou toon nie, maar die aggressie en vinniger vaart van die Stormers na die losbal toe het die Bulls ontsenu en verward gelaat.

stormers-logo-grootDit is nie deur die skrumfiasko aangehelp nie, waar die Bulls voor rustyd deur die tuisspan verwoes is. Boonop het die Bulls oom in die lynstane nie altyd skoonbal gekry nie.

Daar wag heelwat werk …

Die Stormers se verdediging was ook heelwat beter as dié van die Bulls. Die Stormers het 16 uit 140 duikslae gemis (11.4%) teenoor die Bulls se 15 uit 107 (14%).

Die Bulls het wel die meeste losskrums (76-51) gewen. Maar ʼn losskrum wen is een ding en omkeerbesit afstaan is iets anders. In dié opsig was die Stormers lag-lag baas. Hulle het nege teen vier gewen.

Hanteerfoute en ʼn onverklaarbare onsekerheid van wie wat in die agterlyn moes doen, het die Bulls vroeg die inisiatief laat verloor.

Die Stormers kan dit die seisoen ver bring mits hul beserings nie te kwaai pla nie.

Die Stormers se reserwekrag buite die 23-tal is eina wat betref skrumskakels en ook slotte, maar hulle lyk agterlangs skerp en daar is ook diepte hoewel hulle topspelers daar verloor het.

Hulle het reeds nou ook vir Damian de Allende, wat gewys het hy kan wél uitgee, met ʼn enkelbesering verloor wat ernstig lyk.

In Australasië en Japan

♦  Uit Australasië lyk die Blues in hulle tweede seisoen onder afrigter Tana Umaga na ʼn splinternuwe span. Daar is meer aggressie, groter dissipline, beter ondersteuning en groter struktuur – en Umaga het reeds aan die begin van sy tweede jaar ook reeds die swakplekke in die span met slim aankope reggestel.

Goed, die Rebels hoort nie in die reeks nie, maar die Blues was nietemin indrukwekkend in hulle 58-18-sege in Perth.

Hier kom ʼn ding!

♦  Die Force het die Waratahs, wat die naweek teen die Lions in Johannesburg speel, in ʼn wegwedstryd in Sydney opdraande gegee maar 13-19 verloor.

Hulle nuwe afrigter, die Suid-Afrikaner David Wessels, sê die probleem met sy jong span is dat hulle nie daardie wil om te wen gehad het nie. “Hulle moet leer om te wen.”

Die Waratahs het eers in die laaste kwart van die baie middelmatige wedstryd beheer gekry en net-net verdien om op die natterige veld te wen. Veggees het die deurslag gegee – en dit is wat Wessels by die Force wil regstel.

Nie een van die twee spanne het groot indruk gemaak nie en sal, op hierdie wedstryd geoordeel, vorentoe nog heelwat teenspoed kry.

♦  Die Crusaders het tuis teen die Brumbies gewen, 17-13, en soos altyd lekker rugby gespeel. Hulle het voorlangs oorheers en heelwat balbesit gehad, maar daar is tog vrae te vra oor hulle lekker gehardloop. Boonop het die Saders hul losskakel Richie Mo’unga verloor. Hy het sy hand gebreek en sal tussen 6-8 weke nie kan speel nie.

Goed, dis ʼn jongerige Crusaders-agterlyn, maar te veel kanse is verspeel.

Crusaders het egter goed wal gegooi toe die Brumbies in die laaste kwart die wedstryd probeer beklink het. Die Brumbies lyk na die Aussies se beste span en Crusaders moet nie afgeskryf word nie..

♦  Die Chiefs het hul wegwedstryd teen die Highlanders 24-15 in Dundee gewen. Lima Sapoaga het vyf strafdoele vir die tuisspan oorgeskop terwyl die Chiefs drie keer gaan druk het.

Die Highlanders, bloot op Saterdag geoordeel, lyk na Nieu-Seeland se swakste, selfs al het die Blues teen die Rebels weggehardloop in ʼn wedstryd waar hul krag nie na waarde geskat kan word nie. ʼn Mens moet egter nie uit die oog verloor dat die Chiefs goed was nie.

♦  Hoe minder ʼn mens oor die Sunwolves sê, hoe beter. Hoe goed die Hurricanes was, en hoe jy hulle in ʼn oorwinning van 83-17 moet takseer, is onmoontlik.

Die Sunwolves hoort nie hier nie.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae