Einde van Kings se sprokiesverhaal; nou wag die Lions

Die Kings se sprokiesverhaal het Saterdagaand in die Nelson Mandelabaai-stadion na drie opeenvolgende seges tot ʼn einde gekom toe hulle met 19-10 deur die Brumbies geklop is.

Die Brumbies het daarmee die eerste Australiese span geword wat vanjaar ʼn wedstryd in Suid-Afrika gewen het.

Dit was ʼn welverdiende oorwinning deur ʼn span wat verreweg die meeste rugby gespeel en feitlik elke faset oorheers het. Hulle het egter, nadat die telling vir meer as 40 minute op 10-5 in die tuisspan se guns gestaan het, in die laaste kwart twee keer met slim rolskoppe wat albei goed met die drukslag beheer is, beheer op die telbord oorgeneem.

Was dit nie vir die uitstekende verdediging van die Kings nie, sou die telling deur die gestruktureerde spel en goeie beskerming van die bal van Brumbieskant, veel groter gewees het.

Die Kings het net met sewe duikslae uit die 131 wat hulle gemaak het misluk.

Maar jy kan nie sonder die bal speel nie. Teen rustyd was die besit (76-24) en gebiedsvoordeel (86-14) in die wenspan se guns, maar die Brumbies kon selfs ondanks heelparty aanvalle op die doellyn net eenvoudig nie teen die verdediging druk nie.

Die Kings het se besit en gebied was na rustyd beter, maar met 35 persent van die bal en net 30 persent van die tyd in die teenstander se helfte gaan jy nie sommer wen nie.

♦  Uit die oogpunt van die stewige skare was dit seker nie ʼn prima-wedstryd nie, maar die telbord-spanning, en ook hier en daar ʼn belowende beweging deur die tuisspan, het dit sekerlik die moeite werd gemaak.

♦  Aanstaande Sondag lê die Lions vir Lionel Cronje-hulle op Ellispark voor.

Puntemakers –

Southern Kings (10) 10: Drie: Strafdrie (7 punte, geen doelskop benodig nie). Strafdoel: Lionel Cronje.
Brumbies (5) 19: Drieë: Josh Mann-Rea, Aidan Toua, Tom Banks. Doelskoppe: Wharenui Hawera 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dewald Strydom ·

Die Kings kon maklik, sonder om die bal weg te skop , die wedstryd gewen het. Ongelukkig het Cronje n afdag gehad. Cloete is beslis ok gemis.
Daar kom beslis nog n verassing of 2 vir die ander spanne.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.