Eindstryd in halfeind ‘oorgespeel’

Gavin Scott, die uitblinker-heelagter van College Rovers op die aanval teen Tygerberg. (Foto: Ashley Vlotman/Gallo Images/Gold Cup Rugby)

Verlede jaar se Goue Beker-eindstryd word as ʼt ware vanjaar in die halfeindronde oorgespeel.

Rustenburg Impala (Luiperds) en Valsbaai (Westelike Provinsie) het mekaar verlede jaar in die eindstryd van die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale oopklubreeks op Rustenburg aangedurf.

Impala het gerieflik met 48-24 gewen om die kroon te dra.

Vanjaar durf die twee mekaar in die reeks se halfeindstryd reeds aan, dié keer op Valsbaai se werf in Constantia, Kaapstad.

Die verdedigende kampioen het Saterdag in die kwarteindronde oorweldigend met 69-21 teen Northam Rhinos (Limpopo Blou Bulle) gewen.

Laasgenoemde, wat verlede jaar nog op reserweligavlak deelgeneem het, is die eerste Limpopo-span wat die uitspeelrondes van die GB-reeks kon haal.

Cecil Dumond het 19 van die wenspan se punte met agt doelskoppe en ʼn strafdoel behaal.

Valsbaai het eweneens ʼn oortuigende kwarteindsege behaal toe hy Progress George (Suidwestelike Distrikte) met 37-13 verslaan het.

Quins-Bobbies-rugby (Blou Bulle) is die ander halfeind-gasheer nadat hy Sasol Secunda (Pumas) stormenderhand met 59-20 oorweldig het.

Sy teenstander is College Rovers (KwaZulu-Natal), wat Saterdag die hardste moes werk om Tygerberg met 27-23 te troef.

Die beskikbare puntemakers –

Impala 69 – Drieë: Bruce Muller, Hendrik Huyser (2), Justin Wheeler, Leon du Plessis (2), Percy Williams (2), Maverick van der Merwe, Robert Rawlins. Doelskoppe: Cecil Dumond (8). Strafdoel: Cecil Dumond.

Northam 21 – Drieë: Patrick Hattingh, WP Botha. Doelskop: Justin Botha. Strafdoele: Justin Botha (3).

Tygerberg 23 (10) – Drieë: Shameegh Allen, Wilbre van Wyk. Doelskoppe: Deon Taljaard (2). Strafdoele: Deon Taljaard (3).

Rovers 27 (17) – Drieë: Graham Geldenhuys, Tythan Adams (2), Brandon Bailing, Grant Williams. Doelskop: Gavin Scott.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.