‘Eise van sewesrugby hoër as in 15-man’

Jonathan Mokuena - oud-kaptein van die Blitsbokke. (Foto Marnus Kok)

Jonathan Mokuena – oud-kaptein van die Blitsbokke. (Foto Marnus Kok)

Sewesrugby vat jou psigies na ’n ander vlak toe. Jy is nooit weer dieselfde nie, want jy weet daarmee waartoe jou liggaam in staat is.

Só sê die voormalige Blitsbokkaptein en tans afrigter van die NWU-Pukke se Varsitybeker-span, Jonathan Mokuena.

Hy het ook vir die Lions en die Cheetahs Superrugby gespeel; was  in 2010 kaptein van Griekwas toe hulle die Vodacombeker op Loftus gewen het; en een van sy grooste oomblikke was toe hy in 2009 as speler van die wedstryd aangewys is toe hy vir die Royals teen die Britse en Ierse Leeus gespeel het.

“Toe ek nog gespeel het, het ek nooit meer as 100kg geweeg nie, juis oor die hoeveelheid wat in die korter formaat van rugby gehardloop word, nie net in wedstryde nie, maar ook tydens oefeninge.”

Mokuena, wat die Blitsbokke in 24 toernooie, waarvan ses as kaptein, tussen 2005-2008 verteenwoordig het, sê die eise wat sewesrugby aan spelers stel is baie hoër is in die langer weergawe.

“Baie 15-man spelers het al probeer om sewes te speel, maar dit dan laat vaar juis oor die hoë eise, byvoorbeeld uithouvermoë, wat dit stel,” sê hy.

Die Blitsbokke is onlangs ’n gevoelige slag toegedien met die nuus dat spelers soos Justin Geduld, Stephan Dippenaar, Rosco Spekman, Branco du Preez en Cecil Afrika almal met beserings sukkel wat hulle deelname aan die oorblywende vier toernooie van Wêreldrugby se sewesreeks in die wiele ry.

Dit boonop kort nadat Seabelo Senatla en Kwagga Smith aangekondig het dat hulle hul voortaan op die Superrugby-reeks gaan toespits. Tim Agaba is egter weer amper fiks.

Mokuena sê om twee toernooie op agtereenvolgende naweke soos onlangs (Nieu-Seeland en Australië en kort daarna Amerika en Kanada) te speel, geweldig uitputtend is, “maar dit staaf my punt dat, as jy sewes wil speel, jy regtig fisies en psigies in ’n goeie kondisie moet wees.

“Jy raak byvoorbeeld net gemaklik in jou hotelkamer, dan moet jy weer oppak vir die volgende toernooi. Ek het simpatie vir die dilemma waarin die beserings vir Neil (Powell, afrigter van die Blitsbokke) plaas. Maar dit is deel van afrigting,” sê hy.

♦  Mokuena sê die werk wat Marius Schoeman, bestuurder van die Suid-Afrikaanse sewesrugbyakademie, doen is daarom van onskatbare waarde om spelers vir die Blitsbokke te kweek.

“Die groot vraag is of die spelers wat sterre soos Geduld en Specman se skoene sal moet volstaan, die mas sal opkom.”

♦  Na die eerste ses toernooi in vanjaar se Sewesreeks is die Blitsbokke met 126 punte in die eerste plek op die punteleer, met hulle naaste teenstander, Engeland (103 punte) in die tweede plek.

♦  Daar is nog vier toernooie oor; Hongkong, Singapoer, Parys en Londen. Daar is verskeie permutasies waarmee Blitsbokke, wat in al ses die huidige reeks se toernooie tot dusver in die eindstryd was en vier keer gewen het, steeds die reeks kan wen, selfs al struikel hulle vorentoe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan Fourie ·

Dankie dat julle ons naam hoog hou geniet dit om te kyk NB KAN NIEL POWELL NIE A S B ONS 15 MAN SPELERS OOK AF RUG NIE .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.