‘Ek kry Japan jammer’ – Sonny Bill

Sonny Bill Williams is maar skepties oor Eddie Jones se onlangse optrede. (Foto: Odd Andersen/AFP)

Sonny Bill Williams het nie van sy hart ʼn moordkuil in ʼn onderhoud met Australië se Nine’s Wide World of Sports gemaak nie en die voormalige All Black-held het sy mond goed oor Eddie Jones uitgespoel.

“Dit is ʼn hartseer stand van sake, nie waar nie? Ek dink hy het doodeenvoudig net gejok. Hy het vir die spelers, die Australiese rugbyliefhebbers en die land se rugbyraad gelieg en dit is ʼn skande,” het Williams gesê.

Williams het sy salvo afgevuur nadat Japan se rugbybase Woensdag bevestig het dat Jones die land se nuwe hoofafrigter is.

Die 63-jargie afrigter het juis in aanloop tot die aankondiging bewerings ten sterkste ontken dat hy die Dapper Bloeisels se afrigterleisels gaan vasvat.

Hy was veral in die spervuur oor die Wallabies se sukkelvertoning by die Wêreldbeker-toernooi in Frankryk en hy kon uiteindelik net twee van sy nege toetse saam met die span wen.

“Ek kry eintlik vir Japan jammer,” het Williams voortgegaan.

Eddie Jones. (Foto: Twitter)

Volgens die sterk senter het Jones reeds ʼn paar brûe in sy afrigtersloopbaan verbrand – nie net saam met Australië nie, maar hy is ook deur Engeland in die pad gesteek.

“Japan glo dat hierdie ou hul rugby na hoër hoogtes kan neem terwyl sy getuigskrif die teendeel bewys. Dit is amper asof Jones nie meer mooi weet wat in die werklikheid gebeur nie.”

Vertroue tussen die spelers en hul afrigter is van groot belang en Williams meen dat Japan se rugbysterre dalk sal sukkel om alles te glo wat hul nuwe breier sê.

“As iemand wat self rugby gespeel het, weet ek dat ek maar skepties oor só ʼn afrigter sou wees. Respek en lojaliteit is van groot belang in Japan; ek is egter onseker of dié waardes met Jones se onlangse optrede strook.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.