‘Eksperimentele’ Duitse span kry groot slae

rugby-europeSkaars `n week ná Duitsland se leeutemmersege oor Roemenië het die span `n deftige drag slae teen Georgië in die Rugby Europa-kampioenskap op die lyf geloop.

Die span se hoofafrigter Kobus Potgieter, `n oud-Tukkie, het voor die wedstryd aan Pale Toe! gesê hy vat `n jong span Tbilisi toe en stel `n klompie nuwe kombinasies op die proef, maar selfs hy het waarskynlik nie `n loesing van 6-50 (rustyd (6-21) verwag nie.

Georgië, wat die afgelope stuk of tien jaar dié reeks net onder die Sesnasies oorheers, het uit die staanspoor sy stempel op die wedstryd afgedruk.

Die Valsbaaise haker Dasch Barber was dié keer in die opdrafspan saam met die flank Sebastian Fereirra (OP Kings), die losskakel Raynor Parkinson (Universiteit van Johannesburg) en die buitesenter Marcel Coetzee (Sharks 0.19). Die span se voorste driedrukker, die flank Jaco Otto (Sharks o.21), het `n blaaskans gekry, en die agsteman Jarrid Els (Grens) was op die bank.

Ook op die bank was die span se jongste vonds uit Suid-Afrika, die gewese Blou Bul-o.19-slot en `n puik atleet, Sven van Niekerk.

Dié wildsboer van Tzaneen het volgens die Internasionale Atletiekfederasie se webwerf op sy dag die werpskyf 58 m ver geslinger.

Blikkies se span

 In Lissabon het Pole, wat deur die Pretorianer Blikkies Groenewald afgerig word, 10-35 in die reeks om die Rugby Europa-trofee (die derde vlak van mededinging in Europa) teen Portugal verloor.

Dit was min of meer te wagte gesien Portugal se posisie sewe trappies bo Pole op Wêreldrugby se rangleer.
Groenewald word deur die gewese Bulls- en Blou Bul-afrigter Chris Buitendach bygestaan.

Teleurgesteld

 Roemenië, met die Suid-Afrikaners Johan van Heerden in die span en Jody Rose op die bank, is ná sy skokterugslag teen Duitsland in die Kampioenskap terug op die wenpad met `n sege van 13-3 oor Spanje in Boekarest.

Die voorsitter van die Roemeense Rugbyfederasie, Alin Petrache, sê hoewel die span se ondersteuners waarskynlik in die lae telling teleurgesteld is, is die oorwinning belangrik met die oog daarop om vir die volgende Wêreldbekertoernooi in aanmerking te kom.

Die Eike was Rustyd al 10-3 voor.

 In die ander wedstryd Saterdag in die Kampioenskap het Rusland, wat die vorige week onverwags teen Spanje verloor het, die Swarte Duiwels van België 25-18 geklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.