11 Bokke begin Maandag reeds vir die jaareindtoer slyp

Elf gekontrakteerde Springbokke wat nie vrygestel is om vir hulle provinsies te speel nie, is na ʼn vierdaagse Bok-oefenkamp aanstaande week in Kaapstad opgeroep.

Die kamp sal van Maandag tot Donderdag duur.

Die ongekontrakteerde Springbokke wat nog by die uitspeelrondes van die Curriebekerreeks betrokke is, is egter nie gevra om die kamp by te woon nie. Dit geld ook die spelers wat tans in Japan en in Engeland speel.

ʼn Twaalfde gekontrakteerde, die WP/Stormers se vaskopstut Frans Malherbe, sal slegs mediese toetse ondergaan. Hy sal weens ʼn nekbesering nie aan die einde van die jaar kan saam toer nie.

Die kamp is die begin van die voorbereiding vir die jaareindtoer na Ierland, Italië, Frankryk en Wallis. Die doel is om  aan die Springbokbestuur die geleentheid te gee om die mediese-, kondisionerings- en fiksheidspeil van die 11 spelers te bepaal.

Hulle sal onder toesig van die Springbokke se mediese en kondisioneringspanne wees. Die spanafrigters sal die spelers ook onder hande neem met die opskerping van vaardighede en taktiese beplanningsessies.

Die genooide spelers –

Frans Malherbe, Tendai Mtawarira, Coenie Oosthuizen, Trevor Nyakane, Steven Kitshoff (almal stutte), Eben Etzebeth, Pieter-Steph du Toit, Lood de Jager (slotte), Siya Kolisi (flank), Handré Pollard (losskakel), Damian de Allende en Jesse Kriel (senters).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

B-man ·

Die “Elende” duur voort, want wat soek Beast ook nog daar?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.