Elf uit SA in Duitse span wat Brasilië opdreun

Ayron Schramm – tweekuns. (Foto: Facebook)

ʼn Duitse span met elf Suid-Afrikaners in sy geledere het Brasilië Saterdag in Leipzig in die eerste van twee toetse op die Suid-Amerikaners se Duitse toer behoorlik opgedreun.

Duitsland, wat op die koop toe deur die Suid-Afrikaners Kobus Potgieter en Pieter Jordaan afgerig word, het met 45-12 gewen nadat hy rustyd reeds met 26-0 voor was.

Die span speel op die tweede vlak van Europese rugby, net onder die Sesnasiesreeks.

Om die kroon te span het Suid-Afrikaners 40 van die wenspan se 45 punte aangeteken.

Marcel Coetzee (heelagter), Jaco Otto (flank), Ayron Schramm (agsteman, twee), Nikolai Klewinghaus (linkervleuel) en Dash Barber (haker) het elk ʼn drie gedruk.

Raynor Parkinson (losskakel), wat op sy dag vir die Universiteit van Johannesburg gespeel het, het met vyf doelskoppe geslaag.

Barber het vroeër vir Valsbaai, die huidige SA Goue Bekerhouer, gespeel, en die res is almal uit KwaZulu-Natal.

Coetzee, Otto en Schramm het almal o.21-rugby vir die bond gespeel, met laasgenoemde wat ook vir die Sharks-vyftiental in die Vodacombekerreeks en die opstelronde van die Curriebeker gespeel. Klewinghaus is ʼn oudleerling van Hillcrest High.

Ander Suid-Afrikaners in die Duitse opdrafspan was Michael Poppmeier (slot), Sebastian Ferreira (flank) en Winston Cameron-Dow (binnesenter), terwyl Jarrid Els (losvoorspeler) en Marcel Henn (veelsydige voorspeler) op die bank was.

Poppmeier is ʼn gewese kaptein van Valsbaai, Ferreira het vir die Kings gespeel, Cameron-Dow is `n oudleerling van Durban High, Els het vir die Grens gespeel, en Henn vir die NWU-Pukke in vanjaar se Varsitybekerreeks.

De Wet van Niekerk, Brasilië se binnesenter, het sy rugby onder meer aan die Stellenbosse rugbyakademie geleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Trots en hartseer ·

As daai ouens eerder Saterdag Boktruie gedra het, sou ons nie dalk gewen het nie?

Rupert Ashford ·

Ek dink nie ons besef hoeveel jong manne pak hulle tasse en soek hulle heil elders as gevolg van die bestuur van SA sport (in die geval rugby) nie. Nie almal sal dit maak tot heelbo nie, maar ons diepte en kompetisie vir die hoogste plekke word so uitgekalwe dat alles verswak.

Johan Briedenhann ·

Fantasties baie geluk met so span kan jy mod moelik verloor

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.