Ellispark se 60 000 kaartjies uitverkoop; wegspan-druk is op Crusaders

Die Lions-maatskappy het Maandag sommer vroegmiddag laat weet: al 60 000 die kaartjies vir die Superrugby-eindstryd Saterdagmiddg (16:00) op Ellispark is uitverkoop.

Dit herinner aan die oud dae toe die topspanne in die 1970s en ’80s vir die Curriebekereindstryd – en ook wanneer die Westelike Provinsie en Noord-Transvaal in die ligawedstryd gespeel het – die stadions volgepak het.

Die 60 000 toeskouers sal die meeste wees wat nog ‘n Supereindstryd bygewoon het. Nie een van die ander stadions het Ellispark se toeskouerkapasiteit nie.

Goed, die 60 000 is meer toeskouers as die kleiner volgepakte pawiljoene van weleer, maar die boodskap vandag was duidelik: dit maak nie saak hoe belaglik en ingewikkeld die reeks was nie, dit tel wel – en ons wil daar wees om te sien!

In elk geval, dit was die boodskap van die mense wat ure lank tougestaan het om kaartjies te koop. Trouens, Saterdagaand na die Hurricanes in die tweede helfte van die halfeind platgeloop is, is daar al duisende kaartjies verkoop.

Dit is natuurlik Saterdag teen die Crusaders, die span wat die toernooi al sewe keer gewen het en vier keer in die eindstryd verloor het. Geskiedenis, ja, maar tog iets om ʼn duidelike uitdaging aan die Lions te stel.

Die Lions se ondersteuners is duidelik oortuig die beker kom vir slegs die vierde keer Suid-Afrika toe nadat die Bulls dit in 2007, 2009 en 2010 gewen het. En hulle mág inderdaad vol selfvertroue wees.

Geen span het nog oor die Indiese Oseaan van Australasië na Suid-Afrika toe of andersom ʼn eindstryd gewen nie. Trouens, in al vyf die gevalle tot dusver was die tuisspan duidelik baas.

Op een uitsondering na is die grootste skade deur die wenspan na rustyd gedoen, waarskynlik deur nagevolge van die lang vlug. (Vra maar vir die Hurricanes wat Saterdag in die laaste 42 minute 41 punte afgestaan en slegs sewe aangeteken het!)

Eindstryduitslae tussen SA en Australasiese spanne (rustydtelling in hakies) –

1996: Auckland Blues klop Natal 45-21 (20-16) in Auckland
2001: Brumbies klop die Sharks 36-6 (6-elk) in Canberra
2009: Bulls klop Chiefs 61-17 (34-7) op Loftus
2012: Chiefs klop Sharks 37-6 (13-3) in Hamilton
2016: Hurricanes klop die Lions 20-3 in Wellington (10-3)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.