Ellispark-toets: Dis wat die Engelse kan aanvuur

(Logo Circa)

Net een stukkie kommentaar, een skrum en ʼn swak spankeuse.

Dit was sedert 1972 die regte bestanddele vir die Engelse rugbyspan om die Springbokke in Suid-Afrika te kon klop.

Dis seker hoekom die huidige Engelse toerspan van Eddie Jones (afrigter) dit verkies om die eerste drie weke van die toer in Umhlanga aan die KwaZulu-Natalse Noordkus te bly vir  Saterdag se eerste toets op Ellispark, gevolg deur die tweede toets in Bloemfontein en die laaste op Nuweland in Kaapstad.

In Umhlanga is daar geen druk op Jones-hulle nie, dis buite skoolvakansie en die dorp is bra stil. Die Engelse kan oefen waar en wanneer hulle wil en Jones kan dus nie in ’n strik trap waar hy te vroeg in die week van die heup af lostrek en skietgoed aan die Springbokke gee nie.

Die Springbokke en Engelse het mekaar sedert 1972 al 13 keer in toetswedstryde in Suid-Afrika gepak, waarvan die Bokke nege keer aan die wenkant was. Die Rose kon nog net drie keer wen, terwyl die kragmeting in 2012 In Port Elizabeth met 14-elk gelykop geëindig het.

Kom ons draai die horlosie terug na 1972, toe die Bokke en Engelse mekaar die eerste keer in Suid-Afrika gepak het.

Dit was ’n swak en onervare Engelse span, met nege nuwelinge. Die Rose was uitgedun ná beserings en onttrekkings en Engeland kon nie een wedstryd in die Vyfnasiesreeks wen nie en het laaste geëindig. Maar die Springbokkeurders het ook kleigetrap met die span wat hulle gekies het.

Ironies was dit die mees suksesvolle Engelse toer nog, want John Pullin-hulle was onoorwonne in sewe wedstryde binne twee weke en drie dae, insluitend die sege van 18-9 in die toets op Ellispark.

Die Engelse moes 22 jaar wag voordat hulle weer ’n toets in Suid-Afrika kon wen toe hulle in 1994 die Bokke met 32-15 op Loftus Versfeld getroef het.

Dié toerspan het vooraf baie swak gevaar en is deur die Vrystaat, Natal, Transvaal en die SA A-span voor die eerste toets geklop.

Ná die wedstryd teen Transvaal, wat die toerspan met 21-24 verloor het, het Francois Pienaar, Transvaal se kaptein, na die Engelse kleedkamer oorgestap en gesê: “Manne, ons dink julle is potensieel ’n baie goeie span.”

Pitkos vir ’n oorwinning!

Carling sê hy het dadelik na sy spanmaat Dean Richards gekyk en gesê: “Volgende week, volgende week,” en die toets op Loftus met 32-15 gewen.

Die Engelse se laaste oorwinning in Suid-Afrika was in 2000 toe hulle met 27-22 in Bloemfontein gewen het.

Martin Johnson, wat dié dag die Engelse se kaptein was, sê die grondslag is in die eerste skrum gelê toe die Engelse die Bokke weggestoot het. Hulle het net daar en dan besef hulle kan wen.

En Saterdag …

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jannie ·

Jy kan hoegenaamd nie 1972 se Bokke met hierdie spul wil vergelyk nie!!! LOL!!

jakes ·

Ek stem saam met Bennie en Jannie. Daar is nie n manier dat hierdie deurmekaar bokspan die Engelse sal klop nie. Hier kom 3 toetse te wen op n drafstap vir England.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.