Eloff ‘drop, place, score’ span tot oorwinning

JP Eloff – 26 punte. (Foto: NOLA Gold)

Soos ʼn Frik du Preez van ouds, het JP Eloff Saterdag ge-drop, ge-place en ge-score om die oorwinning vir sy span in die Amerikaanse Senior Rugbyliga (MLR) te verseker.

Dié oudleerling van die Hoër Tegniese Skool John Vorster, met tien toetse vir Amerika agter sy naam, het 26 punte met ʼn drie, drie doelskoppe, vier strafdoele en ʼn skepdoel aangeteken, om New Orleans Gold met 46-43 oor Utah Warriors te laat seëvier.

Sy prestasie het daarvoor gesorg dat die MLR hom as die reeks se speler van die week aangewys het.

Chad London, wat in Johannesburg gebore is, en Amerika in ses toetse verteenwoordig het, het twee drieë vir Glendale Raptors in hul sege van 33-11oor Seattle Seawolves gedruk.

Hy is as die speler van die wedstryd aangewys, en dié vertoning het hom ʼn plek in die MLR se vyftiental van die week besorg.

In die naweek se derde wedstryd het San Diego Legion met 31-17 teen Austin Elite gewen.

♦ Nóg ʼn speler met Suid-Afrikaanse wortels se kordaatstuk Saterdag in Amerika het byna ongesiens verbygegaan.

Dit was Hanco Germishuys se verdoelde drie wat Amerika die eerste keer in die toets teen Skotland laat voorloop, en die Arende in staat gestel het om Skotland met 30-29 te klop.

Hy het Griekwas by die o.13-Cravenweek verteenwoordig.

♦ Intussen het Trinidad & Tobago in St. Clair ʼn skoksege van 34-33 oor die verdedigende Rugby Amerikas Noord-kampioen, die VSA Suid Panthers behaal, nadat die Amerikaners rustyd gerieflik met 27-12 voor was.

Daar word beweer dat die wenpunte aangeteken is nadat speeltyd reeds verstreke was. Die skeidsregter wou hierna glo nóg twee minute speeltyd toelaat, toe ʼn assistent-skeidsregter hom op sy fout gewys, en hy die eindfluitjie geblaas het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.