Elrigh in Bulle se opdrafspan

Die Bulle se Elrigh Louw op die oorlogpad. (Foto: GB Jordaan).

Elrigh Louw is in die Blou Bulle se opdrafspan vir Saterdag se Curriebeker-halfeindstryd teen die Cheetahs in Bloemfontein.

Die Sprinbok-losvoorspeler is verlede week teen die einste Vrystaters met ʼn rooi kaart van die veld gestuur, maar ʼn tugverhoor het dié besluit intussen herroep.

“Elrigh Louw se rooi kaart, wat in die 14de ronde van die Curriebeker-veldtog uitgereik is, is herroep. Die kaart is nou ná ʼn tugverhoor met ʼn geel kaart vervang,” het die Bulle in ʼn amptelike verklaring gesê.

Die 23-jarige speler sal nou saam met Marcell Coetzee en Nizaam Carr die Pretorianers se lostrio vorm vir die belangrike uitklopkragmeting teen die Cheetahs.

Keagan Johannes dra die no. 9-trui in Embrose Papier (dyspierbesering) se afwesigheid en hy sal Chris Smith se skakelmaat wees.

Johan Goosen – wat vroeër beslis op die Bokke se losskakelradar was – begin op heelagter, terwyl Cornal Hendricks, Stedman Gans, Harold Vorster en David Kriel vir bykomende slaankrag in die agterlyn sorg.

Die wedstryd begin Saterdag om 15:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Blou Bulle: Johan Goosen (heelagter), Cornal Hendricks (regtervleuel), Stedman Gans (buitesenter), Harold Vorster (binnesenter), David Kriel (linkervleuel), Chris Smith (losskakel), Keagan Johannes (skrumskakel), Elrigh Louw (agtsteman), Nizaam Carr (flank), Marcell Coetzee (kaptein), Ruan Nortjé (slot), Ruan Vermaak (slot), Mornay Smith (stut), Johan Grobbelaar (haker) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervangers: Jan Hendrik Wessels, Simphiwe Matanzima, Francois Klopper, Janko Swanepoel, WJ Steenkamp, Bernard van der Linde, Sibongile Novuka en Wandisile Simelane.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Gaan die tugverhoor nou ook optree teen die skuldiges wat die foutiewe besluit geneem het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.