Elsenburg en Grootfontein in Pannar-eindstryd

Grootfontein se buitesenter, Daniel Rademan, bars deur Glen se verdediging op pad na ʼn drie. (Foto: Peet van der Walt)

Dis weereens Elsenburg teen Grootfontein in die eindstryd Vrydag om die IPJ du Plessisbeker in die Suid-Afrikaanse Landboukolleges se Pannar-toernooi.

Elsenburg het Potchefstroom Woensdag met 34-7 in die Bekerafdeling geklop, en Grootfontein het Glen met 39-15 verslaan.

In die Plaatafdeling het die gasheer, Fort Cox, met 24-7 teen Tsolo gewen; en Cedara het Taung met 22-7 getroef.

Fort Cox en Cedara meet dus in die Plaateindstryd kragte.

Peet van der Walt van Pannar, wat die toernooi vanjaar die 31ste keer borg, laat weet ál Woensdag se wedstryde het aan die verwagtinge voldoen, en Vrydag beloof eweneens opwindende rugby op te lewer.

Hy berig die wedstryd tussen Elsenburg en Potchefstroom was skouspelagtig, en laasgenoemde se verdediging het aanvanklik die aanvalle van die Stellenbossers weerstaan.

“Elsenburg se vernuf en samespel het egter verseker dat hulle in die loop van die wedstryd die punteverskil rek, en uiteindelik gemaklik met 34-7 wen.

“Veral die wenspan se buitesenter, Joseph Burger, het op die aanval sowel as die verdedigeing die oog gevang.”
Van der Walt sê die botsing tussen Grootfontein en Glen het in baie opsigte gelykop verloop.

“Glen se voorspelers het Grootfontein opdraand gegee, maar laasgenoemde se agterlyn het oorheers. Hulle het die breedte van die veld goed benut en hul bewegings beter afgerond.

Gerco Nortjé, Elsenburg se heelagter, op die aanval teen Potchefstroom. (Foto: Peet van der Walt)

“Adriaan (Wolf) Stander, die linkervleuel van Grootfontein, het uitgeblink en twee drieë gedruk.”

Hy (Van der Walt) sê Fort Cox en Tsolo het mekaar deeglik vasgevat, maar die gasheer het sy geleenthede beter benut en deegliker afgerond.

“Daar was tye dat Tsolo gelyk het of hy Fort Cox kan klop, maar swak afronding het sy pogings gekelder.”

Van der Walt sê Cedara en Taung het aantreklike rugby gespeel en die Noordwesters was eerste op die telbord.

“Dit het ʼn ruk vir Cedara geneem om op dreef te kom, maar namate die eerste helfte gevorder het, het hy al hoe beter gespeel en rustyd met 12-7 voorgeloop.

“Die KwaZulu-Natallers het die inisiatief in die tweede helfte behou, nieteenstaande goeie aanvallende rugby deur Taung.

“Cedara het sy beste wedstryd van die toernooi gespeel, en sy taktiek en balvaardighede was veel beter as in sy eerste twee wedstryde.”

Opgesomde punteleer –

Bekerafdeling

Elsenburg 10, Grootfontein 10, Potchefstroom 0, Glen 0.

Plaatafdeling

Fort Cox 10, Cedara 8, Tsolo 1, Taung 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.