En daar groet hulle mekaar, het Spiekeries altyd uitgesaai

Argieffoto (Foto: The Beijinger)

Vuishoue was nog altyd verbode in rugby, tog oorheers hulle jare lank die nuusblaaie wanneer hulle in belangrike wedstryde gegooi word en die gang van ʼn wedstryd verander.

My pa het altyd met bittere smaak vertel hoe die All Black-keurders in 1956 die Nieu-Seelandse swaargewigbokskampioen Kevin Skinner se pensioen onderbreek het om die Springbokke reg te sien.

Skinner, wat ʼn slagter van beroep was, het reeds in 1954 uitgetree nadat hy in 1949 deur Suid-Afrika getoer het.

Hy is nadergetrek vir die laaste twee toetse in 1956, wat die All Blacks albei gewen het om die reeksnederlaag van 4-0 in Suid-Afrika te wreek.

Skinner was as een van die beste stutte van sy tyd beskou, maar die skandvlek dat hy bloot gekies is om die Springbok-stutte Jaap Bekker en Chris Koch reg te sien, sal altyd in Suid-Afrika onthou word.

Die foto van ʼn bebloede Bekker (dr. Danie Craven, wat die span afgerig het, het die Bokke belet om terug slaan) ná die tyd in die kleedkamer, sal altyd Springbokondersteuners se bloed laat kook.

Net so was die Nieu-Seelanders briesend oor die steelhou waarmee Burger Geldenhuys in 1986 ʼn einde van die Nieu-Seelandse Kavaliers se kaptein, Andy Dalton, se toer gemaak het.

Geldenhuys het Dalton van agteraf bygekom. Dr. Craven was só briesend dat hy Geldenhuys laat skors het om die toetsreeks mis te loop.

Ironies genoeg het Gert Smal die All Black-stut Gary Knight met ʼn regter in die vierde toets platgeslaan waaroor daar skaars ʼn woord gerep is.

In 1995, slegs ʼn paar maande ná die Bokke se Wêreldbekertriomf, het Wallis teen die Bokke gespeel.

Wallis se grootste troefkaart was hul ellelange slot Derwyn Jones (2,10 m).

Voor die wedstryd het die Bokke se afrigter, Kitch Christie, Kobus Wiese opdrag gegee om na James “om te sien”.

Wiese het dit verkeerd verstaan, want vroeg in die eerste helfte het hy Jones met ʼn liederlike vuishou droomland toe gestuur.

Daar is baie ander voorvalle, soos toe Frik du Preez die Franse kapokhaanslot Alain Plantefol se drade in 1967 geknip het.

Plantefol, ʼn vuiluil en skoorsoeker, het vir moeilikheid gesoek en dis hoekom Du Preez hom reggesien het.

Dis hoekom daar altyd daaroor gepraat sal word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Scalla

Goeie ou tye, die FM wireless met sy pm 10 battery is al n uur voor die tyd aangeskakel sodat die valves kan warm word, indien jy as kind n geluid gemaak het tydens die game het jy n backhand gekry, moes
tjoepstil wees, Spiekeries het dit altyd so mooi beskryf en omskryf, gevoel asof jy daar was. Mooi memories.

Schalk

Soos Oom Frik du Preez gesê het in die dae wat hy rugby gespeel het was rugby gevaarlik en seks veilig.