En toe kom Botha se lynstaan en Bosch se skoppie …

Pat Lambie - 17 skoppunte teen die Brumbies. (Foto skysports.com)

Pat Lambie – 17 skoppunte teen die Brumbies. (Foto skysports.com)

Die Sharks het Saterdag binne twee minute na die afskop ʼn drie afgestaan en daarna in die eerste helfte grotendeels swaar geleef voordat hulle in die tweede helfte teen die Brumbies in Canberra reggeruk het.

Die wenpunte het heelwat na die eindtoeter gekom en Pat Lambie-hulle het met 27-22 gewen.

Die Sharks het heelwat kanse verspeel, maar net toe dit wou lyk of die span van Pat Lambie, toe nog met hulle voorsprong 22-15,  die knoop sou deurhak, toe kry die tuisspan hulle tweede wind.

Die Brumbies, wat sterk aangeval het, is toe by die doellyn gestuit. Hulle baldraer is regop gehou en dit was ʼn losgemaal. ʼn Skrum sou volg met die Sharks wat sou ingooi. Dit was broodnodige verligting wat gewink het.

Swak dissipline, wat maar deurentyd tyd gepla het, was hierdie keer weer aan Sharkskant afwesig. Chiliboy Rallepelle het in die losgemaal ʼn teenstander (onnodig) aan die keel gegryp, en pleks van die Sharksskrum was daar ʼn strafskop vir die tuisspan.

Hulle het hoek toe geskop en van die lynstaan af het die Brumbies langs die pale gaan druk.

♦    Op 22-elk was die telling seker ʼn goeie weergawe nadat die Brumbies na ʼn halfuur met 15-3 voor was en later op 15-27 inhaalrugby moes speel.

Daar was sowat vier minute speeltyd oor toe die Sharks gestraf is en die lynstaan, met die Brumbies wat moes ingooi, vyf meter van die Sharks se doellyn gevorm is. Dit was hartseer, want die Sharks het so mooi teruggeveg  …

Maar watwo, toe wen Ruan Botha die lynstaanbal vir die Sharks, en hulle is veld-af. Weer was daar ʼn strafskop teen die Sharks waarmee die Brumbies wou aanval, , darem nie oop hulle vyfmeterlyn nie – en wéér is die Brumbies se lynstaan bederf.

Van die opvolgende losskrum af het Lambie wyd gespeel, Curwin Bosch, as plaasvervanger-heelagter, het mooi langs die lyn afgesny en toe ʼn rolskop na binne gestuur wat deur Lukhanyo Am opgetel en gedruk is.

♦  Die Sharks het swaargetrek na die eerste drie van die Brumbies deur Henry Speight in die tweede minuut. Die Durbaniete het net sporadies en sonder sukses aangeval. Bygesê, hulle aanvalle was telkens gevaarlik.

Die Brumbies was nietemin grotendeels in beheer in die eerste helfte totdat die Sharks kort voor rustyd twee, drie keer net kort voor die doellyn gestuit is voordat Beast Mtawarira oorgewurm het. Die doelskop en nog ʼn strafdoel deur Lambie het dit 15-13 vir die Brumbies met rustyd gemaak.

Na die breekslag was die Sharks meer doelgerig en die beste span op die veld. Dit het gelyk of hulle, na ʼn verdere drie strafdoele deur Lambie, met die wedstryd sou weghardloop.

Toe het die Brumbies van ʼn skaars losgemaal op die Sharks se doellyn ʼn gaping vir die senter Tevita Kuridrani geskep het wat langs die pale oor is. Die telling was 22-elk, en die balans van die wedstryd het onteenseglik in die guns van die Brumbies geswaai.

Maar toe kom daardie lynstaan wat Botha op sy eie doellyn gewen het … en Bosch se stukkie briljantheid.

Puntemakers –

Brumbies (15) 22: Drieë: Henry Speight, Josh Mann-Rea, Tevita Kuridrani. Doelskoppe:  Wharenui Hawera, Isaac Thompson. Strafdoel: Hawera
Sharks (13) 27: Drieë: Beast Mtawarira, Lukhanyo Am. Doelskop: Patrick Lambie. Strafdoele: Lambie 5.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

philip ·

Ten minste het hul terug geveg en nie gaan le nie ,,”wel done sharkies’,, jul het bewys jul kan vir 82 minute rugby speel

jan ·

ja ruan botha wys hy is net so goed soos die slotte van die spingbokke hy klop aan die deur

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.