En toe wen die Kings en die Cheetahs se uitspeelkanse leef voort

Ná 17 wedstryde elk, het Suid-Afrika se twee Pro14-verteenwoordigers die naweek die heel eerste keer ʼn tweekuns oorwinnings behaal en albei gewen.

Ja, die afleiding dat die Kings Vrydagaand ná 16 neerlae gewen het, is heeltemal korrek – en die Cheetahs was, soos dit al by hulle gewoonte geword het, weer in ʼn wedstryd met ʼn klein  punteverskil betrokke.

Eers die Kings: Hulle vertoning Vrydagaand teen die voorlaaste span in die pro14-reeks, die Newport Dragons, het aan hulle ʼn verdiende en oortuigende sege van 45-13 besorg.

Goed, dit was wel teen ʼn span wat in September laas (teen die Kings) gewen het, Vrydagaand kanse verspeel en foute gemaak het, en in vreemde omstandighede in Suid-Afrika ná die koue toestande in Europa self nie waffers gelyk het nie.

Die verskil in hierdie wedstryd, ongeag die swak teenstand, is dat die Kings met meer struktuur en planmatigheid gespeel het; meer geduld op die aanval beoefen en fases gebou het; en druk in punte omskep het.

Ses drieë teen die Dragons se een, en die besoekers wat ná rustyd nie kon punte aanteken nie, dui op die Kings se heerskappy.

Bobby de Wee was op slot uitstekend, en Masixole Banda het onteenseglik rugby in hom.

Die vraag is of die Kings aanstaande seisoen genoegsaam spelers van gehalte by hul bestes sal bykry om die span se potensiaal aan te vul.

Puntemakers –
Southern Kings (14) 45:
Drieë: Luzuko Vulindlu 2, Masixole Banda, Ruaan Lerm, Anthonie Volmink, Bobby de Wee. Doelskoppe: Kurt Coleman (6). Strafdoel: Coleman.
Dragons (13) 13: Drieë: Dorian Jones. Doelskop: Jones. Strafdoele: Jones (2).

Cheetahs vs Connacht

Die Cheetahs het in die 79ste minuut die wedstryd teen die Ierse span Connacht gered toe Niel Marais ná ʼn lynstaan die wenstrafdoel deur die pale gestuur het, 26-25.

Connacht het goeie rugby gespeel, maar te veel foute gemaak wat met 13 strafskoppe (teen net sewe) deur die skeidsregter Stuart Berry gestraf is.

Hulle kanse vir ʼn uitspeelwedstryd is met hierdie neerlaag nou neusie verby, terwyl die Cheetahs steeds ʼn realistiese kans het om derde in afdeling A van die Pro14-reeks te eindig en ʼn uitspeelwedstryd te verdien.

Saterdagaand in Bloemfontein was hierdie die Vrystaat se sewende tuissege in agt wedstryde teen oorsese spanne en hulle agtste uit nege ná die tuisoorwinning teen die Kings.

Swys Venter was op senter weer uitstekend vir die Cheetahs, en sy vertrek na Worcester Warriors is vir die Cheetahs en Suid-Afrika ʼn slag; Henco Venter, Uzair Cassiem en Ox Nché het die oog voorlangs gevang, en die skrum was, wanneer dit nodig was, vernietigend.

En so terloops, die Vrystaat het met die terugkeer van Tiaan Meyer ná ʼn besering, saam met Shaun Venter en Zee Mkhabela, wat Saterdagaand ʼn flink diens aan sy agterlyn gelewer en goeie opsies gebruik het, nou drie uitstekende skrumskakels.

Connacht het heelwat gehardloop met ʼn agterlyn wat vaart en vaardigheid het. Kyk jy egter na die statistiek, het die Vrystaatse span meer hardloopmeters (488) as die Iere (246) verdien, minder moes têkkel (71 keer teenoor 93), die bal meer kere (46-31) gedra en ʼn raps meer besit en gebied gehad.

En die wedstryd gewen …

Puntemakers –
Cheetahs (16) 26:  Drieë: Uzair Cassiem, Sibhale Maxwane. Doelskoppe: Niel Marais (2). Strafdoele: Marais (4).
Connacht (15) 25:  Drieë: Matt Healy (2), Eoin Griffin. Doelskoppe: Jack Carty (2). Strafdoele: Carty (2).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.