Engeland die Blitse se gevaar in uitspeelronde

Met net een wedstryd op die eerste van drie dae van Wêreldrugby se sewesreeks wat van Vrydag af in Sydney gespeel word, moes Neil Powell se Blitsbokke aanpassings aanbring.

Die Blitsbokke, reekswenners in 2016/’17, het vandeesweek vroeër as gewoonlik in Australië aangekom om die vlugvoosheid voor die ekstra dag darem ietwat te probeer wegslaap en -werk.

Hulle sal Vrydagoggend voor hul enigste wedstryd van die dag teen Papoea-Nieu-Guinee (09:22) ook nog ʼn oefening inpas.

Maar die groot dag in die uitspeelronde kom Saterdag, wanneer Engeland, wat in Kaapstad effens gesukkel het maar ʼn goedafgerigte span met baie talent en vaart is, aan die beurt kom.

Die Blitsbokke behoort gemaklik teen Spanje te wen (06:03) voordat daar teen die Rose gespeel word (09:14) om te bepaal wie Sondag die kwarteind as voorste span in  afdeling C sal aandurf.

Argentinië, toenemend aan die verbeter, het in Kaapstad in die eindstryd teen die All Blacks verloor. Hulle behoort die beste in die Blitse se afdeling te vaar met Frankryk, die wisselvalligheid vanself;  Wallis, wat nie waffers is nie; en Kenia wat selde in ʼn toernooi hul konsentrasie kan behou.

Dring die Blitsbokke deur na die halfeind, wat ʼn mens feitlik kan aanvaar, wag Kanada of die VSA in die halfeind – en dít gaan nie maklik wees nie.

Hierdie twee amperse spesialis-rugbylande word nou regtig ‘n faktor, met die VSA se vaart en Kanada se meer voorspelbare dog effektiewe styl wat nie sommer geïgnoreer kan word nie.

♦  Wat word dié naweek van die Blitse verwag? Verbetering op die ietwat lustelose vertoning in Kaapstad waar, so sê die afrigter Neil Powell, daar van die wedstrydplan afgerig is.

Daar is oorgenoeg ervaring en leierskap in die span om te sorg dat dit nie weer gebeur nie – en daar moet die wete by die Blitse wees dat hulle in Sydney móét wen met die oog op die reeks, waar hulle tans twee punte agter Nieu-Seeland is.

Belangriker, wen bring selfvertroue en hulle het dit nodig vir die Statebondspele in April en die Sewes-Wêreldkampioenskappe in Julie.

Maar eers wag Sydney, en dan oor ʼn week Hamilton in Nieu-Seeland…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.