Engeland eerste keer dié eeu op Nuweland

Engeland sal die eerste keer hierdie eeu op Nuweland in aksie wees wanneer hy Suid-Afrika in een van aanstaande jaar se Junietoetse daar aandurf.

Die SA Rugbyunie (Saru) het Vrydag die stadions bekend gemaak waar die toetse sal plaasvind.

Rugbyliefhebbers sal verlig wees om te verneem dat Nuweland (die derde toets op 23 Junie) en Ellispark (die eerste toets op 9 Junie) vooorkeur kry bo die beoogde Wêreldbekerkeuses van die Kaapstadse Stadion en die Nasionale Stadion in Johannesburg.

Die derde toets op 16 Junie is aan die Vrystaatstadion in Bloemfontein toegesê.

Wat die ondersteuners egter minder opgeruimd stem, is die wete dat die Engelse tans die oorweldigende gunsteling is om skoonskip in die reeks te maak.

Die twee lande het tot dusver 13 keer hier te lande kragte gemeet.

Suid-Afrika het nege keer gewen, Engeland drie keer en een het gelykop geëindig, maar ai … ʼn mens ys met die oog op die toekoms.

Die nederlae was op Ellispark (9-18 in 1972), Loftus Versfeld (15-32 in 1994) en in die Vrystaatstadion (22-27 in 2000).

Die Springbokke het die ander twee toetse op Ellispark met 35-9 in 1984 en 36-27 in 2012 gewen; en die ander een in die Vrystaatstadion in 2007 met 58-10 oorheers.

Nuweland het tot dusver ʼn ongeskonde rekord met Bokseges van 27-9 in 1994 en 18-0 in 1998.

Die twee toetse in Port Elizabeth het ʼn Suid-Afrikaanse oorwinning van 33-15 (1984) en ʼn gelykop uitslag van 14-14 (2012) opgelewer.

Durban was slegs een keer, in 2012, die gasheer en die Bokke het met 22-17 gewen.

Nou lek Eddie Jones en sy Rose hul lippe af om dié goeie rekord te kom vertroebel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.