Engeland en Ierland blom, Wallis verwelk byna

Wallis se Alun Wyn Jones. Foto: Twitter.

Twee dinge het duidelik geword tydens die naweek se rugbytoetswedstryde wat in die Noordelike Halfrond gespeel is.

Eerstens is ʼn land met spelersdiepte nie te moeilik om af te rig nie en tweedens loop swakker spanne erg deur wanneer een van hul spelers met ʼn rooi kaart afgestuur word.

Vir die rekordboeke het Engeland ʼn wegholoorwinning van 70-14 oor Kanada behaal, Ierland het Amerika met 71-10 geklop, en Wallis en Argentinië se wedstryd het met 20-20 gelykop geëindig.

Engeland, met 13 spanne wat in die Engelse Premierliga speel (dus sowat 400 beroepspelers), word op die oog af nie veel beïnvloed deur die Britse en Ierse Leeus-toer in Suid-Afrika nie.

Die kragmeting met Kanada het aan die afrigter, Eddie Jones, kans gegee om nuwelinge op die proef te stel, ou hout uit te kap en vir die toekoms te bou.

Engeland het 11 drieë gedruk en die Kanadese was glad nie opgewasse nie.

Ierland vs die VSA

Ierland, wat met 12 nuwelinge teen Amerika uitgedraf het, was soos ʼn vars briesie.

Bygesê, nadat die Amerikaanse boereflank Riekert Hattingh ná ʼn gevaarlike hoogvat afgestuur is, was die speelveld ongelyk en kon Gary Gold (oud-Springbokhulpafrigter) nie meer planne maak om al die gate toe te stop nie.

Die Iere het dalk nie te veel spelersdiepte nie, maar al hul spanne speel dieselfde en wanneer ʼn nuwe speler kans kry, gly hy soomloos in, want hy weet presies wat van hom verwag word.

Wallis teen Argentinië

In Cardiff moes Wallis baie diep delf teen die Poemas, wat vir byna 60 minute met net 14 spelers moes klaarkom nadat Juan Cruz Mallia vir Kieran Hardy ook met die skouer in die gesig ná ʼn hoogvat getref het.

Die Poemas was met 3-6 agter, maar dit gebeur so dikwels dat een van hul spelers ʼn rooi of geel kaart kry dat hulle dit steeds kon regkry om gelykop met Wallis te eindig.

Wallis, wat sonder 10 Britse en Ierse Leeus is, onder wie die beseerde Alun Wyn Jones, Justin Tipuric en Leigh Halfpenny, het duidelik ʼn gebrek aan spelersdiepte gehad teen die Argentynse hardebaarde, wat jare lank in die Rugbykampioenskap en Superrugbyreeks gesmee is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pretorianer ·

Kom nou! Die Argentyne is baie strawwer kompetisie as Kanada en die VSA…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.