Engeland juig ná Twickenham-triomf

Marcus Smith het die wenskepskop teen Ierland oor die dwarslat gejaag. (Foto: X/England Rugby)

Engeland se Jamie George glimlag breed nadat sy span vir Ierland met 23 – 22 in ʼn Sesnasies-wedstryd op Twickenham geklop het.

Marcus Smith het vir ʼn dramatiese eindtoneel tot ʼn aksiebelaaide rugbytreffer gesorg toe hy die wenskepskop in die doodsnikke van die kragmeting oor die dwarslat gejaag het.

Die Rose se oorwinning beteken dat Ierland – wat eintlik reeds met een hand die Sesnasies-silwerware vasgehou het – nou volgende naweek vir Skotland in Dublin moet klop as hy sy titel suksesvol wil verdedig.

“Ek is baie trots – dit is waarskynlik een van die mees emosionele dae van my rugbyloopbaan. Daar was baie mense wat in ons vermoë getwyfel het ná ons nederlaag teen Skotland, maar ons probeer om nie na hulle te luister nie,” het George gesê.

Die Engeland-kaptein het in aanloop tot die wedstryd gesê dat sy span ʼn perd van ʼn ander kleur op Twickenham behoort te wees; dit is immers die Engelsmanne se rugbyheiligdom.

“Om nou só ʼn vertoning teen Ierland – na my mening die beste span ter wêreld – te lewer, beteken dat dit ʼn baie spesiale dag is.”

Engeland staan nou ook ʼn kans om die trofee omhoog te hou; mits hy natuurlike volgende naweek met Frankryk afreken en Ierland teen die Skotte verloor.

Maar vir Ierland-afrigter Andy Farrell is die Twickenham-nederlaag net ʼn klein spoedwal op sy span se pad na die titel.

“Dit behoort nie te moeilik te wees om die manne weer terug op die wenpad te kry nie. ʼn Sesnasies-titel is baie moeilik om in te oes en jy gaan beslis ook met ʼn paar teleurstellings te doen kry,” het hy gesê.

Hy erken egter dat Engeland die beter span op Twickenham was.

“Hulle het verdien om te wen – veral as ʼn mens kyk na hoe hulle die temperatuur van die drukkoker laat styg het. Ons moes gereeld teen die verloop van spel probeer punte aanteken.

“Wanneer ons wedstryde wen, is een van ons sterk punte om maklik na die volgende kragmeting te beweeg. Ons sal nou net so goed moet wees wanneer ons ook  ʼn wedstryd verloor – ons moet net vorentoe beweeg.”

Sesnasies-punteleer:

  1. Ierland: 16 punte ná vier wedstryde
  2. Engeland: 12 punte ná vier wedstryde
  3. Skotland: 11 punte ná vier wedstryde
  4. Italië: 7 punte ná vier wedstryde
  5. Frankryk: 6 punte ná drie wedstryde
  6. Wallis: 3 punte ná drie wedstryde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.