Engeland klop Blitsbokke die vierde keer

Engeland het Suid-Afrika in hulle groepwedstryd van die Singapoer-sewestoernooi die vierde keer in die reeks geklop en daarmee eerste in groep B geëindig.

Albei die spanne is deur na die kwarteindronde, maar die Blitsbokke is ondanks ʼn punteverskil wat 25 beter as Engeland s’n is, tweede geplaas omdat die reëls bepaal dat, waar spanne gelyk op die punteleer eindig, die wenner van hulle kragmeting die voorkeurposisie kry.

Die Blitsbokke sal nou Sondag (06:52) teen die jong maar baie moeilike Australië in die kwarteind speel terwyl Engeland teen Kenia te staan kom.

Frankryk het uit die kwarteind-bus geval. Nadat hulle eers vir Engeland geklop en toe vir Suid-Afrika laat swaar leef het, het hulle hul laaste wedstryd teen Japan verloor – en laaste in die groep geëindig.

♦  Engeland het hulle eerste drie teen die Blitsbokke reeds 17 sekondes ná die aanvang van die wedstryd op die telbord gehad maar nie verdoel nie. Hulle het besit oorheers en die Bokke het eers in die laaste beweging van ʼn strafskop in hul eie kwartgebied ná die toeter gaan druk ná ʼn skitterende beweging wat deur Werner Kok afgerond is en het rustyd 7-5 voorgeloop.

Maar dit was minder as ʼn minuut ná die hervatting dat die Engelse gaan druk het om met 10-7 voor te loop. Nog ʼn drie van hul eie gebied af het twee minute later gevolg en die Blitsbokke, met 7-17 agter, moes toe twee keer gaan druk om te wen.

Tim Agaba het sekondes voor die eindtoeter gaan druk, die doelskop is geweier maar die Blitsbokke kon nie die inskop bemeester nie. Engeland het uitgeskop en gewen.

Engeland was aggressief by die afbreekpunte, en die Blitsbokke het te veel strafskoppe afgestaan en te veel duikslae gemis.

Hulle sal heelwat moet verbeter of hartseer wag in die uitspeelwedstryde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wim van der Berg ·

Dit is soos ons dit ook verstaan het, maar SA is toe wel tweede geplaas, soos in die berig aangedui word.
“…. die Blitsbokke is ondanks ʼn punteverskil wat 25 beter as Engeland s’n is, tweede geplaas omdat die reëls bepaal dat, waar spanne gelyk op die punteleer eindig, die wenner van hulle kragmeting die voorkeurposisie kry.”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.