Engeland maklik baas teen die Wallabies

Moenie dat die rustydtelling van 13-elk jou flous nie. Engeland was maklik die beste span en Australië vroeg al aan die wankel.

Engeland het Saterdag met 37-18 op Twickenham gewen en was in alle fasette baas. Hulle het vier drieë gedruk teenoor die twee van die Wallabies, albei deur Israel Folau met die een wat gedruk is nadat die speeltyd reeds verstreke was.

Dit beteken dat die Wallabies vanjaar net vier van hulle 13 wedstryde gewen het ‒ en daar is by hulle seker ook kommer dat David Pocock die tweede keer vanjaar weens ʼn nekbesering nie kon speel nie.

Hoewel huille deurgaans in beheer was, het Engeland in die taamlike lou eerste helfte ietwat gepoer-poer, maar na rustyd reggeruk.

Hulle kaptein Owen Farrell, wie se omstrede skouerloop teen die Springbokke opslae gemaak het, het dit weer gedoen en daar gaan klaarblyklik weer niks daarvan kom nie.

Engeland het drie van hulle vier jaareindwedstryde gewen, maar die gesukkel teen die Springbokke en die neerlaag teen  die All Blacks sal Eddie Jones-hulle seker nie te breëbors laat loop nie.

Puntemakers ‒

England (13) 37: Drieë: Jonny May, Elliot Daly, Joe Coganasiga, Owen Farrell. Doelskoppe: Farrell (4). Strafdoele:  Farrell (3).
Australië (13) 18: Drieë: Israel Folau (2). Doelskop: Matt Toomua. Strafdoele: Toomua (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans C ·

Het nie die hele wedstryd gevolg nie,maar wel gesien hoe Owen Farrell weereens met moord wegkom en met ‘n skouer loop Australie van ‘n drie beroof het.
Dit moes ‘n strafdrie en rooikaart gewees het.

Skeidsregters is eenvoudig te bang om die tuisskare te ontstel.

Anoniem ·

Bestaan daar nog so iets soos ‘n REGVERDIGE skeidsregter. Dit wil vir my voorkom asof skeidsregters deesdae siende blind is, want dit is nou die hoeveelste keer dat Farrell nie gestraf is vir ‘n skouerloop nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.