Engeland ook uitgedun vir Twickenham-toets

Dit begin al hoe meer lyk of die kragmeting op 3 November tussen die Springbokke en Engeland op Twickenham tussen twee redelik uitgedunde spanne gespeel sal word.

Die toetsvenster, wat nie op 3 November vir oorsese spelers in die Engelse ligas geld nie (maar wél vir Engelse spelers!), sal dus beteken dat Rassie Erasmus teen minstens Engeland beslis sonder Faf de Klerk, Willie le Roux, Vincent Koch, Francois Louw en Cheslin Kolbe sal wees en moontlik ook sonder Franco Mostert.

Dit maak dit ses van die 23-tal wat Saterdag teen die All Blacks in die laaste oomblikke verloor het.

Mostert sal wel kan speel mits hy dan nog by die Lions gekontrakteer is. Die Lions en Johan Ackermann trek tans tou oor Mostert se dienste.

Wen Ackermann die stryd en val Mostert op 1 November by Gloucester in, mag hy nie vir die Bokke speel nie.

Maar die Engelse afrigter Eddie Jones het sy eie probleme, hoewel sy spelerdiepte heelwat beter is.

Die een wat Jones die meeste sal irriteer, is die twiet van die agsteman Nathan Hughes tydens sy tugverhoor Donderdag waarin hy na die tugprosedure as “ʼn grap” verwys het.

Die twiet is dadelik uitgevee, maar het genoeg skade gedoen vir die tugvergadering om te verdaag sonder om tot ʼn bevinding te kom oor die vuishou waarvoor hy uitgewys is. Hughes mag dus nie speel voordat die tugverhoor afgehandel is nie.

Hughes is uitgewys in verlede naweek se wedstryd tussen Wasps en Gloucester omdat hy ʼn teenstander in die gesig sou geslaan het terwyl albei op die grond was.

Word Hughes vir die vuishou gestraf, sal hy moontlik nie van sy ses weke se straf afkry nie en dus nie in  Engeland se eerste drie jaareind-wedstryde kan speel nie. Die eerste daarvan is teen die Bokke.

♦ Billy Vunipola, die groot agsteman wat deur Engeland as baldraer gebruik word om oor die voordeellyn te kom, het tot dusver die seisoen nog net 80 minute rugby  gespeel en kry Saterdag vir Saracens weer kans om wedstrydfiks te word. Dit is veral vir Jones belangrik ná die waarskynlike skorsing wat op Hughes wag.

♦ Die Engelse losvoorspeler Sam Simmonds, wat soos die bogenoemdes in die Junie-toetse teen Suid-Afrika gespeel het, het sy knie sodanig beseer dat selfs sy  Wêreldbeker-kanse aan ʼn baie dun draadjie hang.

♦ Dan is die slot Joe Launchbury ook vir sowat drie maande op die kantlyn ná ʼn knie-operasie.

♦ Jonny Hill, ook ʼn slot wat in die toergroep na Suid-Afrika was maar nog nie toetsrugby gespeel het nie, is ook uit die November-toetse.

♦ Die skrumskakel Dan Robson, wat waarskynlik sy toetsbuiging teen die Springbokke sou gemaak het, het verlede naweek ʼn enkelbesering teen Gloucester opgedoen en sal sowat drie maande buite aksie wees.

♦ Engeland se vleuel Jonny May het verlede naweek sy skouer ontwrig en sal waarskynlik ook die eerste wedstryd in November ‒ teen die Springbokke ‒ misloop.

♦ May se vleuelmaat Anthony Watson het sy haksening weer geskeur en is uit die November-toetse en die Engelse senter/vleuel Jonathan Joseph sal ook nie voor aanstaande jaar weer kan speel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.