Engeland op drumpel van wêreldroem

england-logoNou vir die heel grote.

Engeland se rugbyspan het Saterdag op Twickenham nie net die Sesnasiesreeks, die Calcuttabeker en die Triple Crown verower toe hy Skotland met 61-21 geklop het nie, maar die Rose het ook die All Blacks se wêreldrekord (vir ‘groot’ spanne) van 18 agtereenvolgende toetsoorwinnings geëwenaar.

ʼn Mens hoef nie van die grootmond-afrigter Eddie Jones te hou nie, maar hy is ʼn goeie afrigter en het Engeland binne ʼn bestek van 14 maande in brekers van wêreldrekords verander.

Die kringloop sal voltooi wees as Engeland aanstaande Saterdag vir Ierland in Dublin kan klop, die All Blacks se rekord laat spat en ook die Grand Slam wen.

Ja, die einste Iere wat Nieu-Seeland verlede in November in Chicago  laat ontspoor het nadat hulle die rekord laat spat het.

Maar as die Engelse voortbou op hul vertoning, sal wêreldrugby daarmee vrede moet maak dat  Engeland die nuwe rekordhouer is.

Hulle wyk nie van die basiese beginsels af nie, maak eers voor sag en het agterlangs spelskeppers wat kanse in drieë omskep. Engeland moes twee keer in vanjaar se reeks hulle kom-maar-uit-die-tronk-kaartjies gebruik het, maar teen die Skotte het hulle die eerste keer soos ware kampioene gespeel.

Dit was een van daardie donker dae vir die Skotte.

ʼn Geel kaart binne twee minute, ʼn rits beserings en swak verdediging. Dalk was die oomblik te groot, dalk is die Skotte se pad nog nie uitgestippel nie.

“Ons kon net nie aanskakel nie, ons was hopeloos,” het die Skotse kaptein, John Barclay, ná die wedstryd aan die BBC gesê.

Die Engelse senter Jonathan Joseph het binne 57 minute (waarna hy vervang is) sy naam  met sy drie drieë verewig. Hy het vaart, kan systap en aftrap en het die aandele van die Stormers se Huw Jones kwaai laat kwyn.  Dan het die voorspelers ook hul deel gedoen en het Owen Farrell klokslag die teiken  met sy skopwerk pale toe getref.

Puntemakers –

Engeland 61 (30): Drieë: Jonathan Joseph 3, Anthony Watson, Billy Vunipola, Danny Care 2. Doelskoppe: Owen Farrell 7. Strafdoele: Farrell 4.
Skotland 21 (7): Drieë: Gordon Reid, Huw Jones 2. Doelskoppe: Finn Russell 3.

Italië se dissipline laat hulle in die steek

In Rome het Frankryk Italië met 40-18 geklop. Die Italianers se gebrek aan dissipline het weer soos ʼn onderrok uitgehang en hulle kon nie al die gate toestop nie.

Dit laat ʼn mens wonder of Brendan Venter, die Italianers se verdedigingkonsultant, nie maar alte bly is dat hy binnekort deur Suid-Afrika betrek sal word nie.

Dis ook jammer dat die Italianers se kaptein, Sergio Parisse, nooit kans by ʼn sterk span gekry het nie. Vergeet van Kieran Read, vergeet van Duanne Vermeulen, vergeet van Louis Picamoles en Jamie Heaslip. Parisse plaas hulle in die skadu, en dit in ʼn verloorspan.

Puntemakers –

Italië 18 (11): Drieë: Sergio Parisse, Angelo Espositoi. Doelskop: Carlo Canna. Strafdoele: Canna 2.
Frankryk 40 (16) : Drieë: Gael Fickou, Virimi Vakatawa , Louis Picamoles, Brice Dulin. Doelskoppe: Camille Lopez 4. Strafdoele: Lopez 4

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.