Engeland se opportunisme klop die Wallabies

ʼn Rugbybal is nie rond nie en opportunisme is ʼn belangrike wenfaktor, sal Engeland toegee en die Wallabies na Saterdag se toets op Twickenham net oor kan kop skud.

Die beste span het gewen, maar dit kon maklik anders gewees het.

Net 13 minute voor die einde was Australië slegs 6-13 agter en het dit gelyk of hulle die drie gedruk het wat met die doelskop die tellings gelyk sou maak. Die televisieskeidsregter het anders besluit, en tien minute later het Engeland met ʼn sege van 30-6 van die veld gestap.

Die bal, wat letterlik vir Engeland reg gewip het, het die taai en interessante, maar weens die nat bal en veld ook foutbelaaide, wedstryd beslis.

Dit het deurgaans gereën, en Engeland was eintlik net in die eerste halfuur en die laaste kwartier, danksy die bal se spring en hul eie opportunisme, werklik baas. En, natuurlik, die bal wat vir seker 20 meter langs die kantlyn afgerol het sonder om aan die lyn te raak.

Of het dit dalk net-net die kantlyn geraak voordat Elliot Daly dit vorentoe gesool, gejaag en in die 55ste minuut gaan druk het?

Dit was ʼn 50-50 beslissing van die beamptes wat na minute se kykweer-tyd in die guns van Engeland beslis het dit bal was nie uit nie. Maar dit was ook die Wallabies se eie skuld nadat Tevita Kuridrani met ʼn oop doellyn aangeslaan het nadat Samu Kerevi die Engelse verdediging oopgeskeur het. Die telling was toe net 6-3 maar het skielik13-3 geword – teen die verloop en met hierdie balwip-gelukkie.

♦  Na rustyd – en nadat die Wallabies sowat vier minute met net 13 man en 16 minute met 14 man moes klaarkom sonder dat Engeland dit kon uitbuit – het Australië vlamgevat. Hulle voorspelers was in beheer, en dit was veral die K-faktor, die vleuel Marika Koroibete en die twee senters Kuridrani en Kerevi, wat Engeland se verdediging met hulle groot lywe en vaart op die agtervoet gehad het.

Maar die Aussies kon net eenvoudig nie afrond nie.

Nieu-Seeland skuur deur teen Skotland

Die All Blacks se onoorwinlikheid is vir die derde maal vanjaar beproef toe hulle moes uithaal om Skotland op Murrayfield te klop.

Rustyd was dit nog 3-elk, maar die All Blacks het weer, toe dit saak gemaak het, die punte aangeteken wat nodig was en met 22-17 teen Skotland gewen. Hulle mes egter diep delf teen ʼn span wat geen kans gegun is nie maar onder die afrigter Gregor Townsend ʼn verrassend onverwagte krag in wêreldrugby aan’ t word is.

Ervaring, en die gehalte van hul spelers, het die All Blacks deurgetrek teen die Skotte wat met opskietverdediging vanaf die onkantlyn die All Blacks weinig ruimte gegee het om hul make te maak.

Huw Jone se verdoelde drie vier minute voor die einde het ʼn moontlike verrassing beloof, maar Nieu-Seeland kon die aanslag afweer en het verdien gewen, al was dit net-net.

Tandlose Italië verloor teen Pumas

Argentinië was die beste span en het verdien om te wen. Hulle het drie drieë teen geen gedruk en twee daarvan, in die laaste 11 minute was Italië se doodsteek in die oorwinning van 31-15.

Italië het die Pumas voorlangs vasgehou en hier en daar met stukkies goeie spel vorendag gekom.

Daar is egter nie veel slaankrag in die Italianers se hoofsaaklik eendimensionele spelpatroon nie, en die Bokke behoort nie te veel aan hulle patroon te verander met die oog op aanstaande week se wedstryd teen Italië nie.

Ierland en Wallis bewys hulle diepte

Ierland, met 13 veranderinge aan die span wat Suid-Afrika verlede week platgevee het, en Wallis met 14 veranderinge, het onderskeidelik met 23-20 teen Fidji en 13-6 teen Georgië gewen.

Ierland moes op twee strafdoele laat in die wedstryd staat maak om te wen en Wallis moes vir ʼn vale walgooi toe Georgië teen die einde op Wallis se doellyn geboer, maar net nie die gelykmakende doel kon aanteken nie.

Ander uitslae:

Japan 39 Tonga 6
Roemenië 17 Samoa 13

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

T. van Schalkwyk ·

Sir Clive Woodward, ‘n Engelsman deur en deur, is maar net een van vele stemme wat sê dat die Wallabies aan die ontvangkant was van ‘n hele rits uiters swak skeidsregterbeslissings.

So jammer, maar die Kiwi op die veld en die Ier wat die ‘replays’ moes bestudeer, was heeltemal die kluts kwyt.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.